

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 05 July 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Opwindende Hanglip 54-toernooi word in die vooruitsig gestel, met 'n vol baan van 108 spelers wat daagliks vanaf 11 tot 13 Julie aan dié gewilde toernooi gaan deelneem.
Die toernooi word vanjaar vir die negende keer aangebied en lok jaarliks spelers van regoor Suid-Afrika. Vanjaar is geen uitsondering nie en buiten vir die plaaslike spelers, sal veertig besoekende spelers, sommiges van sover as Kaapstad, aan die toernooi deelneem. Die alombekende Klerksdorp- en Secunda-groepe neem ook weer deel.
Die Hanglip 54-toernooi vind oor 'n periode van drie dae plaas en die 108 spelers sal daagliks meeding in die formaat van 'n beterbal Stableford kompetisie. Die gesogte Hanglip 54-trofee sal na afloop van die drie dae se spel toegeken word aan die spelers met die beste individuele Stableford-telling.
Die eerste dag se spel word geborg deur die Makhado Munisipaliteit, terwyl SA Brouerye sal optree as borg van die tweede dag se spel. Die borg van die derde dag se spel is die Brink Schlesinger Groep.
Met die dat Vicky Grobler, verlede jaar se wenner van die Hanglip 54-trofee, onlangs na Australië geëmigreer het, is daar niemand wat vanjaar die titel kan verdedig nie. Daarbenewens neem Kobus Barkhuizen (jr.) en Anthony Krugel, plaaslike gunstelinge om die toernooi te wen, ook nie vanjaar deel nie. Die toernooi is dus oop, maar plaaslike spelers soos Franna Knoetze, Vic Jacobs, Daan Nel en Alec Jandrell, kan beslis dopgehou word.

ADVERTISEMENT:
