ADVERTISEMENT:

 

Conway Rugbydag stel toeskouers nie teleur

 

Sport  Date: 22 March 2013

 

Louis Trichardt se eerste rugbyspan het nie hul ondersteuners die afgelope naweek teleurgestel nie.

Die Louis Trichardt Rugbyklub het Saterdag weer gasheer gespeel vir hul gewilde jaarlikse Conway Rugbydag. ‘n Gesellige atmosfeer het geheers en daar is ‘n rekord getal toeskouers getel. Volgens die klub se bestuur is daar ongeveer 400 voertuie deur die hekke.

“Dankie vir almal wat kom kyk het en die dag ondersteun het,” het die bestuur na afloop van die dag gesê.

Oudergewoonte is daar sommer vroeg afgeskop met Bulletjierugby, met Laerskool Louis Trichardt en Messina Laerskool se spannetjies wat teen mekaar gespeel het.

Univen se span het teen ‘n gekombineerde Pietersburg Dorp 2 gespeel. Hierdie wedstryd is gevolg deur Pietersburg se eerstes en Letaba, waarna Dendron se span teen Phalaborwa uitgedraf het op die veld.

Die hoogtepunte van die dag was egter toe Makhado (Louis Trichardt) se oumanne teen ‘n gemengde Louis Trichardt-span gespeel het, waarna Louis Trichardt se eerstes teen Mac Musina gespeel het.

Die ou manne wys die jonger spelers waar Dawid die wortel gegrawe het met ‘n eindtelling van 12-0.

Louis Trichardt se eerstes het hierna Musina se manne teruggestuur om hul wonde te lek met ‘n wentelling van 50-10. Afrigter van die eerstes Werner Boshoff het na die tyd gesê die telling kan toegeskryf word aan fikser spelers. “Dit was ‘n harde wedstryd en die hardloop-rugby wat gespeel is, het vrugte afgewerp,” het Boshoff gesê.

Intussen maak die dorp se eerstespan hulle gereed kry vir hul tweede wedstryd in die Presidentsliga hierdie naweek teen Letaba. Louis Trichardt geniet tuisveld voordeel en ondersteuners word aangemoedig om hierdie Saterdag hul ondersteuning te kom wys. Louis Trichardt het reeds hul eerste ligawedstryd teen Pietersburg Dorp 1 gewen met 'n telling van 36-22.

Vir meer inligting oor die komende naweek se rugby kan die klubvoorsitter, Kevin Gilbert, geskakel word  by tel. 082 892 8769.

Na afloop van die Conwaydag het die klub ook die volgende borge bedank: Easy Build, Dunlop, GM Imperial, OK Grocer, Bridge Motors, LTT Protective Clothing, Specialized Oils, Struwig Bouers, Talisman, Makhado Roof Trusses, Werda Toyota, Nedtex Scrap Metals, Promo Place, JBC Metal Works, Limpopo Rugby Academy, Pennells, Coca Cola Fortune, PD Auto Elektries, Trio Pompe, Suid-Afrikaanse Brouerye, Levubu Pines en Ltt Brake & Clutch. ‘n Spesiale woord van dank het gegaan aan DNP Civils wat Saterdag gesorg het dat daar water aangery word na die rugbyveld.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines