

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 25 July 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die vyftienjarige Marlie Knoetze, 'n Graad 10-leerling van Hoërskool Louis Trichardt, het vanaf 10 tot 13 Julie weereens gewys waarom sy tans beskou word as een van Suid-Afrika se mees belowende jong atlete.
Marlie het as deel van die nasionale jeugspan gaan deelneem aan die Wêreld Jeugkampioenskappe in Kanada. Altesaam 162 lande het aan die kampioenskappe deelgeneem. Ten spyte van die feit dat sy slegs vyftien jaar oud is, palm sy 'n brons medalje in die gewigstoot vir dogters O/18 in met 'n allemintige stoot van 15,10 meter. Buiten hiervoor eindig sy algeheel sewende in die diskusgooi vir dogters O/18 met 'n gooi van 44,78 meter. Beide prestasies behaal sy ten spyte van gure weer. Tans beklee sy 'n sewende plek op die wêreldranglys vir gewigstoot in die ouderdomsgroep vir O/18's, terwyl sy 'n algehele vyftiende plek beklee op dieselfde ranglys vir diskusgooi in dieselfde ouderdomsgroep.
Marlie se brons medalje is behoorlik goud werd vir die Soutpansberg-gemeenskap. Sedert laerskool is sy bekend vir haar uitsonderlike atletiektalent en is sy tans die houer van menige Suid-Afrikaanse rekords. Sy is onder meer Atletiek Suid-Afrika se O/19-gewigstootkampioen, asook Atletiek Suid-Afrika se gewigstoot- en diskusgooikampioen in die O/18-afdeling. Daarbenewens is sy ook die Suid-Afrikaanse Skolekampioen in beide items in die O/18-afdeling.
Marlie het haar dank uitgespreek teenoor almal wat dit vir haar moontlik gemaak het om na Kanada te reis. Sy het veral haar afrigter, Robbie Robberts uitgesonder vir die feit dat hy saam met haar na Kanada gereis het. Laastens het sy die gemeenskappe van Levubu, Musina en Louis Trichardt bedank vir hul volgehoue bystand en ondersteuning.

ADVERTISEMENT:
