

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 18 July 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Oorstelpte Gert Velle, oftewel Gert van der Westhuizen, het Saterdag die gesogte Hanglip 54-trofee bo sy kop gelig, na afloop van die tiende Hanglip 54-toernooi.
Oudergewoonte het die Soutpansberg weer sy reputasie gestand gedoen ten opsigte van wisselvallige weer, met weersomstandighede wat gewissel het van heerlike sonskyn tot bittere koue en reën. Tog was daar geen gebrek aan geesdrif nie en 'n vol veld van 128 spelers plus het daagliks uitgestap vir deelname aan 'n toernooi wat beskou word as een van die land se top driedag-toernooie. Die totale toernooi is in die formaat van 'n individuele Stableford-kompetisie beslis, met beterbal Stableford-kompetisies wat daagliks gespeel is. Die eerste dag se spel is geborg deur die Makhado Munisipaliteit, terwyl SA Brouerye die tweede dag geborg het. Die Brink Schlesinger Groep het opgetree as borg van die derde dag se spel.
Dit was die eerste keer dat Gert Velle dié gesogte trofee bokant sy kop gelig het, nadat hy altesaam 112 individuele Stableford-punte ingesamel het. Nog 'n bekende plaaslike speler, Gordon Muirhead, het as naaswenner van die toernooi geëindig met 'n telling van 104 punte, terwyl Michael Andrews derde was met 103 punte. Glo dit of nie, Michael het spesiaal vanaf die Kaap gereis vir deelname aan die toernooi. Die Hanglip 54 het vanjaar ook weer sy ander gereëlde besoekers gelok, soos die span van Klerksdorp en die span van Sekunda.
Wat die eerste dag se beterbal Stableford-kompetisie betref, was dit Gordon Muirhead en Kobus Barkhuizen jr. wat met die louere weggestap het, met 'n telling van 44 punte. Pieter Schlesinger en Kobus van der Goot was na 'n uittel tweede met 41 punte, terwyl Gert en Dot van der Westhuizen derde was, ook met 41 punte.
Dag twee se spel is gewen deur twee jongelinge by die klub, Jaco Calitz en André Naudé, met 46 punte. Pieter Venter en Leon Small was tweede met 44 punte, terwyl Dries Briers en T. Burger derde was met 43 punte.
Die uitslag van die derde dag se spel was bykans dieselfde as dié van die eerste dag. Weer was dit Gordon Muirhead en Kobus Barkhuizen jr. wat na 'n uittel met die louere weggestap het met 'n telling van 43 punte. Gert en Dot van der Westhuizen het tweede geëindig, ook met 43 punte, terwyl Pieter Schlessinger en Philip Ludick derde was. Pieter en Philip se derde plek was ook te danke aan 'n telling van 43 punte.
Tydens Saterdagaand se prysuitdelingsfunksie is daar ook erkenning gegee aan dié plaaslike spelers wat vir die afgelope 10 jaar elke jaar aan al drie dae deelgeneem het. Hulle is Martin du Plessis, Tjol Jandrell, Arie Steyn, Zagrys Nortjé, Schallie van Schalkwyk en Kobus Barkhuizen sr. Daar was ook een besoeker wat, net soos bogenoemde spelers, nog elke jaar, vir die afgelope 10 jaar, baie moeite gedoen het om al drie dae te speel, naamlik Freddy Labuschagne van Klerksdorp. Eerskomende Saterdag word die jaarlikse Sanlam Kankerdag by die plaaslike gholfklub beslis. Die kompetisie is in die formaat van 'n individuele Stableford kompetisie en sal in drie afdelings beslis word. Terselfdertyd sal die klub se B-ligaspan op hul tuisveld te staan kom teen die Universiteit van die Noorde.

ADVERTISEMENT:
