

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 07 June 2013
Laerskool Louis Trichardt se O/11-rugbyspan het verlede Donderdag in pienk truie uitgedraf tydens hul tuisveld kragmeting teen Tzaneen om hul ondersteuning te wys vir die stryd teen kanker.
Afrigter Werner Boshoff vertel dat die besluit om in pienk truie te speel maande gelede ontstaan het ná ‘n gesprek met die spannetjie se jong kaptein, Franco Knoetze. Kort tevore is Franco se ma met kanker gediagnoseer. Buiten vir sy eie ma, is nog een van sy maatjies en spanmaats se ma’s ook met kanker gediagnoseer. Boshoff sê hy was verstom oor hoe dié kankerdiagnoses die jong Franco geraak het.
“Ek het vir hom gevra wat hy met sy lewe wil doen en sy antwoord was dat hy graag wil rugby speel. Toe ek vir hom vra wat hy met die geld gaan maak wat hy met rugby verdien, was sy antwoord: ‘Ek wil dit vir kanker (navorsing) gee.’ ... Reeds op so ‘n jong ouderdom het die mannetjie al geweet kanker maak dood en kanker kos geld,” sê Boshoff.
Boshoff het Franco se pa, Franna, vertel van die gesprek en dié was byna in trane. Aanvanklik wou Franco hê sy spannetjie moes bloot twee pienk strikkies dra, een op elke arm, tydens hul wedstryde. Die een strikkie sou vir sy ma wees en die ander strikkie vir sy maatjie se ma. Dit moes pienk wees want, volgens Franco, het hy al gesien dat mense iets pienk dra om hul ondersteuning aan kankerlyers te wys.
Franna en Boshoff was so aangegryp deur Franco se versoek dat hulle, as ouers van die O/11-spelertjies, begin het met ‘n geldinsamelingsinisiatief. As deel van die inisiatief moes hulle spesiale goedkeuring by die skool kry om met die pienk truie te speel. Die skool se ander spannetjies het op hulle beurt pienk strikkies gekoop en gedra tydens hul wedstryde.
Die groot hoogtepunt verlede Donderdag was toe Franco, namens sy spannetjie, ‘n bedrag van R40 000 aan die Makhado Care Group kon oorhandig. Al die geld is deur die spannetjie en hul ouers self ingesamel. Die Makhado Care Group is welbekend vir die onbaatsugtige werk wat hulle in die plaaslike gemeenskap verrig vir kankerlyers.
Die tjek is oorhandig kort ná die O/11’s se 22-12 oorwinning oor hul opponente van Tzaneen. Hulle was Triegies se enigste rugbyspan wat dié dag ‘n oorwinning kon behaal en dring deur na die semi-finale rondte van die laerskoleliga vir groot skole wat eerskomende naweek in Bela-Bela beslis word.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
