ADVERTISEMENT:

 

Pieter Lordan en Wessel Vermaas by die Piper Cherokee 235 waarin hulle deelgeneem het.

Ou skoolvriende presteer in die wolke

 

Sport  Date: 25 June 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - In die strawwe Presidentstrofee Lugvaartkompetisie in Polokwane het twee ou skoolvriende van die dorp tweede geëindig met hul Piper Cherokee 235.

Wessel Vermaas en Pieter Lordan is nie net tweede met hul Piper Cherokee 235 nie, maar het ook 'n algehele derde plek in hierdie toonaangewende kompetisie op 11 en 12 Junie behaal. Hul voorgee was 136.96 knope. Wessel is die loods en Pieter die navigator.

Oor die twee dae van die wedren is 649.50km gedek. Wessel en Pieter moes volgens hulle voorgee die afstand in 4:44:32 aflê, maar hulle het dit gevlieg in 04:34:10.

Die Presidentstrofee Lugvaartkompetisie word hoog aangeslaan deur amateur en professionele loodse en navigators. Die kompetisie vereis besondere vaardighede, fyn konsentrasie en akkurate navigasie. Dit word jaarliks deur SAPFA (South African Power Flying Association) aangebied en is die enigste van sy soort in Suid-Afrika.

Vanjaar het 70 vliegtuie van regoor die land deelgeneem. Op die eerste dag van die kompetisie word elke span se voorgee op grond van die vliegtuie se meganiese vermoëns bepaal en word dit in berekening gebring om die finale opstygtyd te bepaal. Dit verseker dat elke loods en navigator se vaardighede regverdig getoets word.

Pieter sê dat hul vaardighede wel deeglik getoets is. Hy en Wessel was saam in Hoërskool Pietersburg.

"Ons het dikwels gedroom oor hoe ons oor Afrika sou vlieg," vertel Pieter. "Nou is Wessel op 33 jaar een van SAL se jongste loodse. Ek self geniet dit om te vlieg. Ek geniet die uitdaging om my vaardighede so na as moontlik aan perfek te kry."

Dit is Pieter se derde en Wessel se tweede keer dat hulle aan hierdie kompetisie deelneem. Hulle het in 2002 negende geëindig. Saam met vanjaar se trofeë en medaljes wen hulle ook 'n vakansie op die Benguerra Eiland in Mosambiek.

Dries Briers en sy broer Chris was vanjaar die hoof-organiseerders van die Presidentstrofee Lugvaartkompetisie. Volgens Pieter en Wessel was hierdie die bes-georganiseerde wedren waaraan hulle nog deelgeneem het

Pieter en Wessel wil graag vir Dries en Chris Briers en al die ander organiseerders bedank vir hul harde werk en puik organisasie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines