

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 20 June 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die dorp se eerste rugbyspan het Saterdag hul posisie in die Super 6-reeks versterk, deur 36-33 af te reken het met Phalaborwa se eerstes op hul opponente se tuisveld.
Die eerstespan kragmeting het 'n naelbytstryd opgelewer, met Louis Trichardt wat met 'n skrale drie punte wen met die blaas van die eindfluitjie. Die span se punte is aangeteken deur Chris Swart, wat twee drieë druk, terwyl Kosie Alberts, Felix Malan en Holtman Fourie elk een keer agter Phalaborwa se doellyn gaan kuier. Holtman het ook twee doelskoppe en een strafskop deur die pale gestuur, terwyl Hendrik Kemp twee drieë verdoel het.
Louis Trichardt se tweede span het 'n meer oortuigende oorwinning behaal en klop Phalaborwa se tweedes met 26 punte teenoor 5. Beyers Adendorff was verantwoordelik vir twee van Louis Trichardt se drieë, terwyl Wayne Steyn en Hansie van Schalkwyk elk een drie druk. Jan van Blerk het drie van die vier drieë verdoel.
Die dorp se derdes kon egter nie 'n oorwinning verseker nie en verloor 17-24 teen Phalaborwa. Die span se punte was te danke aan Wally Denton en Dries Rossouw wat elkeen onderskeidelik twee en een drie druk. Rassie Erasmus het op sy beurt een van die drieë verdoel.
Louis Trichardt se eerste, tweede en derde rugbyspanne sal eerskomende Saterdag (21ste) te staan kom teen Potgietersrus op hul opponente se tuisveld.

ADVERTISEMENT:
