

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 24 May 2002
LEVUBU – Levubu se eerste en tweede rugbyspanne het verlede Vrydag (17de) beide oorwinnings ingepalm teen Louis Trichardt se tweede en derde spanne.
Die wedstryde is gekenmerk deur goeie hardlooprugby deur beide Levubu en Louis Trichardt en alhoewel Levubu altwee wedstryde gewen het, was Louis Trichardt effens ongelukkig om te verloor.
Levubu se eerstes wen teen Louis Trichardt se tweedes met 12 punte teenoor 7 na drieë deur Jaco Dicks en Philip Boardman. Een van die drieë is verdoel deur Niel de Fin. Louis Trichardt se punte is aangeteken deur Louwtjie Botes, afrigter van die eerste span, wat 'n drie druk en dit ook verdoel.
Levubu se tweedes wen ook hul wedstryd 12-7 teen Louis Trichardt se derdes. Jaco Dicks sorg weereens vir 'n drie, terwyl ook Herman Bekker 'n drie druk. Een van die drieë is verdoel deur Martin van Zyl. Louis Trichardt se punte is aangeteken deur Collin Brown (drie) en Soon du Toit (doelskop).
Eerskomende naweek (25ste) kom Levubu se eerstes en tweedes te staan teen Messina se tweedes en derdes op Levubu. Die eerste wedstryd skop om 15:00 af en toegang beloop R10 per voertuig. Verversing sal ook bedien word. Die wedstryde sal voorafgegaan word met 'n bulletjierugbydag wat deur Laerskool Levubu aangebied word.
Louis Trichardt sal op hulle beurt Saterdag (25ste) te staan kom teen 'n gekombineerde Letaba/Tzaneen-span op Louis Trichardt. Die eerste wedstryd begin om 14:30 en toegang beloop R10 per voertuig. 'n Kontantkroeg en verversings sal beskikbaar wees met 'n dans na afloop van die wedstryde in die rugbylapa.

ADVERTISEMENT:
