ADVERTISEMENT:

 

CP van Wyk (regs) en spanmaat Liezl Lourens (links) van Team PSG Cycling by die eindstreep van die moordende Isuzu 3 Towers Challenge. Hulle tree as algehele wenners van die uitdaagwedren in die kategorie vir gemengde spanne uit die stryd. Foto verskaf.

Top posisies tydens 3 Towers

 

Sport  Date: 11 October 2013

 

Die uiters moordende Isuzu 3 Towers bergfietsuitdaging is die afgelope naweek vanaf 4 tot 6 Oktober weereens buite Nelspruit beslis.

Hierdie wedren dwing respek af by alle bergfietsryers regdeur die land en word bestempel as die beste, maar ook die mees uitdagende, wedren ten opsigte van tegniese en moeilikheidsgraad. Daar is twee afdelings waarin deelgeneem kan word, naamlik die Stage Race oor drie dae, of die Challenge oor drie dae. Tydens die Stage Race word daar op dag een 75km gery, dag twee 78km en dag drie 55km. In die Challenge ry fietsryers die eerste twee dae elk 50km en die derde dag 55km. Die verskil is dat die Challenge in twee-man spanverband gery word en die twee spanlede mag nooit twee minute uitmekaar ry nie, anders word hulle gediskwalifiseer.

‘n Paar bergfietsentoesiaste van Makhado (Louis Trichardt) het ook vanjaar kans gesien vir dié moordende wedren en uitsonderlik goed gevaar. Almal het aan die Challenge deelgeneem.

CP van Wyk, wat vinnig besig is om sy stempel af te druk in nasionale bergfietsgeledere, het saam met spanmaat Liesl Lourens (‘n uitnodigingsryer van Johannesburg) in die gemengde-span kategorie deelgeneem. Hulle het in die klere van Team PSG Cycling uitsonderlik presteer en eindig eerste in hul afdeling oor al drie dae om ‘n algehele eersteplek te beklink in ‘n gesamentlike tyd van 07:49:30.

Nog ‘n Team PSG Cycling spanmaat en plaaslike ryer, Christiaan Roos, het eweneens die Soutpansberg se naam hooggehou. Hy en spanmaat Nicolle van der Greft (uitnodigingsryer) het ook in die gemengde-span kategorie deelgeneem. Op dag een eindig hulle algeheel derde, maar veg terug met tweedeplekke op beide dag twee en drie, wat aan hulle ‘n algehele tweedeplek in hul kategorie besorg in ‘n algehele tyd van 08:43:49.

Buiten vir die PSG-ryers, het twee lede van die P&L Fietsryklub ook die Challenge aangedurf. Stanley Thompson en Rick Coetzee ding as span mee in die senior mans ope-kategorie en behaal ‘n algehele 30ste plek in ‘n algehele tyd van 09:17:18.

Intussen het die nasionale Nissan/MTN-bergfietsreeks wat oor agt rondtes beslis is, ook afgesluit. Ook in dié reeks blink CP uit deur landswyd algeheel derde te eindig in die afdeling vir junior mans en 93ste in die algehele ope manskategorie. Nasionaal eindig hy algeheel vierde in die totale reeks.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines