ADVERTISEMENT:

 

Theo le Roux met die silwer medalje wat hy gewen het as deel van Limpopo se Extreme Rhinos-stoeispan

Silwer vir Extreme Rhinos

 

Sport  Date: 01 November 2013

 

Limpopo eindig tweede in die Noordvaal Presidente Stoei Uitnodigingsliga en slegs die Bulle van Noord-Gauteng kon die Extreme Rhinos van Limpopo klop.

Die Louis Trichardt Stoeiklub voel geëerd dat een van hul stoeiers, Theo le Roux, uitgenooi is om aan hierdie prestige kompetisie, wat op 26 Oktober in die Noord-Gauteng stoeisaal in Pretoria aangebied is,  deel te neem.

Die 12-jarige Theo stoei in die gewigsklas 46 tot 50kg. In die Presidente-liga word daar net in gewigsklas gestoei en nie in ouderdomme nie. Stoeiers van 11 tot 22 jaar word gekies vir hierdie byeenkoms. Theo het teen twee 15-jariges, een 16-jarige en een 17-jarige gestoei. Hoewel hy hulle nie kon klop nie, was dit nogtans baie goeie ondervinding om aan stoeiers van daardie kaliber blootgestel te word. Die meeste stoeiers in die presidenteliga het Suid-Afrikaanse kleure in stoei. “Dit was ‘n groot voorreg om die stoeiers van 16 tot 22 jaar in dieselfde kompetisie saam met die 11 tot 15-jariges te hê, omdat die jongeres blootstelling aan die groot manne gehad het. Dit is dié prestige byeenkoms in ons land, met stoei van ‘n hoogstaande gehalte,” sê plaaslike afrigter mnr. Minnei le Roux. 

Iets wat Theo baie geniet het, was die spankompetisie. Die Extreme Rhinos het as hul tema gehad om te stoei teen renosterstroping. Dit is die enigste byeenkoms waar Limpopo stoeiers as ‘n span deelgeneem het en elke lid van die span het ‘n silwer medalje ontvang. Limpopo het 39 punte behaal, ‘n kortkop agter die Bulle se 42. Die Golden Lions van Suid-Gauteng was derde met 28 punte, die Valke van Sentraal-Gauteng vierde (22 punte) en die Pumas van Mpumalanga vyfde (18). Daar is 18 gewigsklasse, en een stoeier per gewigsklas word gestuur. Limpopo het net 14 stoeiers  gestuur en dus ‘n paar punte verbeur.  Theo het ‘n punt vir sy span verdien deur sy deelname.

Theo het vroeër vanjaar aan sy vierde Suid-Afrikaanse stoeikompetisie deelgeneem. Die provinsiale stoei-afrigtiers wat op die Limpopo bestuur dien, besluit wie na die presidente byeenkoms genooi word.

Theo stem saam met sy pa, wat ook sy afrigter is, dat hy skouer aan die wiel gaan sit met sy stoei, sodat hy moontlik weer na hierdie byeenkoms genooi kan word.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines