ADVERTISEMENT:

 

Louis Trichardt delf onderspit teen Pietersburg

 

Sport  Date: 29 March 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Louis Trichardt se eerste-, tweede- en derde rugbyspanne het Saterdag almal die onderspit gedelf teen Pietersburg Dorp.

Louis Trichardt se eerstes, wat tot in die tweede helfte voorgeloop het, verloor 8-15 teen Pietersburg Dorp in 'n omstrede wedstryd wat gekenmerk is deur talle strafskoppe, vuilspel en ontoelaatbare duikslae. Drie rooikaarte en een geelkaart is aan spelers van Louis Trichardt toegeken, terwyl een speler van Pietersburg 'n rooikaart ontvang het. Dit het tot gevolg gehad dat Louis Trichardt tot en met die blaas van die eindfluitjie met slegs twaalf spelers op die veld moes klaarkom. Jan van Blerk het vroeg in die eerste helfte Louis Trichardt se telling geopen met 'n strafskop, waarna Felix Malan 'n onverdoelde drie gedruk het.

Wat die tweedes betref, behaal Pietersburg Dorp 'n wegholoorwinning oor Louis Trichardt met 'n telling van 36-5. David Oosthuizen was die enigste speler wat daarin kon slaag om punte vir Louis Trichardt aan te teken in die vorm van 'n drie.

Louis Trichardt se derdes het 'n goeie vertoning gelewer en was dit nie vir probleme met die skopskoen nie, sou hulle gewen het. Hulle verloor egter naelskraap met vyftien punte teenoor sewentien na drie drieë wat nie verdoel kon word nie. Die drieë is gedruk deur Sankie Vermaak, Coillin Brown en Herold Mathonsi.

Louis Trichardt se eerste- en tweede rugbyspanne kom eerskomende Saterdag (30ste), tydens die jaarlikse Grenfell Rugbydag op Messina, onderskeidelik te staan teen Pretoria Technikon en Bosveld I. Die tweedes se wedstryd skop om 14:00 af, gevolg deur die eerste span se wedstryd om 15:30.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines