

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 22 March 2002
LOUIS TRICHARDT – Die dorp se eerste en tweede rugbyspanne het beide die afgelope naweek oortuigende oorwinnings behaal oor die Vikings van Pietersburg.
Die dorp se eerstes klop die Vikings se eerste span 33-15, nadat Nico van der Westhuizen, Leon Moodie, 'Tobie', Pikkie Botha en Chris Swart elk een drie vir hul span druk. Jan van Blerk het op sy beurt 'n verdere agt punte met die skopskoen op die telbord geplaas nadat hy vier van die vyf drieë verdoel.
Louis Trichardt se tweedes behaal ook 'n gemaklike oorwinning oor die tweede span van die Vikings deur 27-3 met hul opponente af te reken. Vir Louis Trichardt druk Michael Kock twee drieë, terwyl Bradley Peters, Walter Pretorius en Dawid Oosthuizen elk een keer agter die Vikings se doellyn gaan kuier. Een van die vyf drieë word verdoel deur Soon du Toit.
Die dorp se derde span verloor hul kragmeting teen die Vikings se derdes met 'n telling van 8-5. Louis Trichardt se enigste punte was in die vorm van 'n drie deur Leon du Preez.
Eerskomende naweek sal Louis Trichardt se eerste, tweede en derde spanne te staan kom teen Pietersburg Dorp op Louis Trichardt se tuisveld. Dié kragmeting beloof opwindende rugby met die eerste wedstryd (derde) wat om 14:30 afskop. Om 15:30 sal Louis Trichardt en Pietersburg Dorp se tweedes op die veld draf, waarna die hoofwedstryd om 16:30 sal volg. Toegang beloop R10 per voertuig en verversings en 'n kontantkroeg sal beskikbaar wees.

ADVERTISEMENT:
