

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 04 April 2003
LOUIS TRICHARDT - Een van Hoërskool Louis Trichardt se sportsterre, Marli Knoetze, het die afgelope naweek weereens gewys waarom sy as een van die land se beste atlete in haar ouderdomsgroep bestempel word.
Marli behaal tydens die USSASA (United School's Sport Association of South Africa) kampioenskappe in Port Elizabeth 'n eerste plek in die gewigstoot vir DO/17 met 'n wenafstand van 14,97 meter. Sy eindig ook in dieselfde ouderdomsgroep eerste in die diskusgooi met 'n gooi van 43,34 meter.
Haar prestasies het na afloop van die byeenkoms vir haar 'n plek besorg in die nasionale USSASA O/17-span wat later vanjaar in Frankryk gaan meeding.
Intussen maak Marli gereed vir die Suid-Afrikaanse Junior O/19-kampioenskappe wat eerskomende naweek in Pretoria beslis word. Dit is nie haar normale ouderdomsgroep nie, maar sy het reeds by verskeie geleenthede in die verlede gewys dat sy net so goed in ouer ouderdomsgroepe kan kompeteer. Die naweek se byeenkoms in Pretoria sal ook in 'n groot mate dien as opwarming vir die Suid-Afrikaanse Junior O/17-kampioenskappe wat op 12 en 13 April in Durban beslis word.
Marli het voorlopig haar dank uitgespreek teenoor die gemeenskap van Levubu, Louis Trichardt en Musina wat haar so getrou bystaan, hetsy deur borgskappe of finansiële bydraes.

ADVERTISEMENT:
