

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 02 May 2014
Plaaslike atleet Gideon Joubert kwalifiseer vir nasionale kleure nadat hy verras het met ‘n goue medalje tydens die Suid-Afrikaanse Meesters Atletiekkampioenskappe (SAMA). Sy visier is nou gestel op internasionale deelname.
Gideon (42) van Makhado (Louis Trichardt) het drie medaljes huistoe gebring na afloop van SAMA, wat op 25 en 26 April by die Royal Bafokeng Sports Palace in Rustenburg plaasgevind het. Die goue medalje het hy ingepalm in die 400 m hekkies, wat hy in ‘n tyd van 58.71s afgenael het. Hy het ‘n silwer medalje in die 110 m hekkies (16.02s) en ‘n brons in die 100 m (11.97s) gewen, alles in die 40 tot 44-jaar ouderdomsgroep.
Alhoewel hy hard voorberei het in terme van fiksheid en spoed, was Gideon se wentyd vir hom ‘n groot verrassing. Tydens die Gauteng-Noord meesterskampioenskappe het hy die 400 m hekkies in 61.33s gewen. Die wentyd tydens die meesters se wêreldspele in Torino, Italië, verlede jaar was 57.99s en die tweedeplek twee sekondes stadiger. Dié wêreldspele, wat as die meesters se Olimpiese spele geag word, vind elke vier jaar plaas en die volgende een is in 2017 in Auckland, Nieu Seeland. Dit maak Gideon opgewonde om daaraan te dink, maar vir nou berei hy hom eers voor vir die wêreld meesterskampioenskappe wat volgende jaar in Lyon, Frankryk, aangebied word. Dit vind tweejaarliks plaas en die wentyd van verlede jaar se wenner in Brasilië was 58.66 sekondes, ‘n skrale .05 sekondes vinniger as Gideon se tyd by SAMA. Daar kan dus met reg gesê word dat Gideon onder die beste 400 m hekkies meestersatlete in sy ouderdomsgroep in die wêreld tel. Hy was ook vanjaar in daardie item die beste in die land in alle ouderdomsgroepe.
Gideon sê dat hy ‘n bietjie verkoue was tydens SAMA en dat hy sy goeie tyd toeskryf aan die Here se genade, ‘n goeie styl en spiergeheue. “Ek het by twee hekkies getrippel en kan dus my tyd afbring as my tegniek reg is,” het Gideon gesê en bygevoeg dat die Bafokeng stadion, wat geriewe aan betref, die beste stadion in die land is waar hy nog ooit deelgeneem het.
In die 110 m hekkies het Gideon ook volgens sy tyd gekwalifiseer vir nasionale kleure, alhoewel hy die knie moes buig voor Shaun Bownes, die huidige SA kampioen en wêreld meesterskampioen.
Gideon het vanaf Augustus ses maal per week geoefen. “Ek gee na werk atletiekafrigting vir laer- en hoërskoolatlete op die hoërskool se baan. Dis dan my geleentheid om saam met hulle te oefen,” het Gideon gesê. Verlede jaar het Gideon ‘n besering opgedoen net voor die SA’s.
“Die feit dat ‘n mens ouer raak moet jou nie laat dink dat jy nie weer kan toetree tot atletiek nie. Ek wil almal aanmoedig om aktief te raak, die drafskoen uit te pak en om betrokke te raak by atletiek op meestersvlak. Ons affilieer elke jaar by SAMA en neem vir Gauteng- Noord deel, omdat Limpopo nie ‘n provinsiale meestersbyeenkoms het nie,” het Gideon gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
