

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 09 May 2014
Twee plaaslike atlete het ‘n groot verrassing gekry toe hulle gekies is vir die tweekamp wêreldkampioenskappe in Spanje.
Ferreira Nel en Amanda Kruger van Makhado (Louis Trichardt) het onderskeidelik in die mansafdeling (45 tot 49 jaar) en die vroue-afdeling (50 tot 54 jaar) in Maart vir Gauteng-Noord aan die Suid-Afrikaanse en Afrika tweekampkampioenskappe in Pretoria deelgeneem. Dié tweekamp bestaan uit 10km hardloop, 40 km fietsry en 5 km hardloop. Op grond van hul prestasies daar het beide in April kennis ontvang dat hulle ingesluit is in die nasionale span wat aan die 2014 Pontevedra ITU Duathlon World Championships op 31 Mei en1 Junie gaan deelneem. Hulle is gekies deur Triathlon South Africa, die nasionale beheerliggaam vir driekamp en tweekamp, en sal dié liggaam daar verteenwoordig.
“Ek het dit glad nie verwag nie. Ek hardloop al baie jare, maar het eers vanjaar kompeterend aan die tweekamp begin deelneem,” sê Ferreira. Hy het al drie Comrades ultra-marathonne en een Two Oceans agter die blad. Ferreira het ook die strawwe Ysterman-driekamp in 2010 aangedurf. “Om vir ‘n driekamp te oefen, is dalk meer gebalanseerd. Die tweekamp is nogal hard. Die hardloop en fietsry en dan weer hardloop is hard op die sisteem en dit werk alles op die bene. Ek is gelukkig geneties ontwerp vir hardloop, maar die fietsry is maar moeilik,” sê Ferreira.
Amanda sê dat hulle eintlik “vir die grap” in Januarie in Polokwane aan die byeenkoms deelgeneem het waar hulle vir Gauteng-Noord gekwalifiseer het. Amanda het in 1990 ernstig begin hardloop. Sy het al een Comrades en twee Two Oceans agter die rug en het, buiten die plaaslike wedrenne, al aan die Argus fietstoer deelgeneem. “Hardloop en fietsry is altwee vir my lekker. Dit is goeie afwisseling,” sê Amanda, wat opgewonde is oor die vooruitsig om in Spanje te gaan deelneem. “Dit is die ervaring van ‘n leeftyd! Ek maak staat op borge om hierdie groot lewenservaring te kan meemaak,” sê Amanda.
Ferreira sien ook baie uit na die ervaring om teen goeie atlete wêreldwyd te kan deelneem. “Ek weet nie of ons so goed sal doen nie, maar dis ‘n groot geleentheid om te kan deelneem,” sê hy.
Intussen is dié twee atlete hard aan die voorberei. Hulle hardloop elke dag en ry soveel as wat hulle kan oor naweke.
“Ek het na die video van die roete in Spanje gekyk. Die fietsry is ‘n moeilike roete, opdraande en bergagtig. Die hardloop is maklik en plat. Die hele roete is in ‘n mooi omgewing. Gelukkig bly ons by die berg en dis die ideale plek om die fietsry te oefen,” sê Ferreira.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
