ADVERTISEMENT:

 

Die Vivo-pad sien lankal nie meer dieselfde daar uit as vorige jare van die Kremetart Fietswedren nie. Die organiseerders van die wedren is egter vol vetroue dat die wedren hierdie jaar sal voortgaan, ten spyte van die huidige toestand van dié pad.

Kremetart gaan voort ten spyte van pad

 

Sport  Date: 09 May 2014

 

Met net meer as ‘n maand oor voor vanjaar se PPC Kremetart fietswedren is die toestand van die Vivo-pad steeds ‘n ernstige bron van kommer.

Twee skofte van die 175 km wedren en die 70 km wedren word op dié pad beslis. Dié pad, oftewel die R522, is egter lankal berug vir sy slaggate, oorgroeide padreserwe en rondloperdiere. Die afgelope twee jaar se besonderse swaar reënseisoene het ook nie die pad se situasie verbeter nie. Daar is, veral ná die treinkruising na Kutama, lang stukke pad wat net gangbaar is vir eenrigting verkeer. Naby die Schoemansdal Veldskool het ‘n groot gedeelte van die pad feitlik heeltemal weggespoel.

Die organiseerders van hierdie jaar se 25ste Kremetartwedren, die P&L Fietsryklub, het egter vandeesweek bevestig dat die wedrenne sal voortgaan soos beplan. Mnr. Jandré van Jaarsveldt, P&L se padkoördineerder van die wedren, het Maandag per e-pos terugvoering aan die koerant gegee oor die vordering wat gemaak is met die herstel van die R522.

Van Jaarsveldt het verduidelik dat hulle al vir maande in samesprekings is met die plaaslike Departement van Paaie en Vervoer, asook al hul aangestelde padkontrakteurs om te verseker dat die pad rybaar gemaak word. “Wat ek wel vriendelik uitlig is dat dit nie die Kremetart se werk is om die paaie reg te maak nie, alhoewel mense vir ons vra wanneer ons die pad reg maak,” het Van Jaarsveldt gesê.

Die kontrakteurs het belowe om teen die 20 Mei die pad tot so ‘n mate te herstel dat dit “min of meer rybaar” sal wees, al is dit net tydelik. Dit behels die permanente opvul en herstel van die groter slaggate, en die tydelike opvul van die kleiner slaggate. Van Jaarsveldt sal op dié sperdatum saam met die kontrakteurs die herstelwerk gaan inspekteer. Die P&L Fietsryklub het egter reeds ‘n plan B in gedagte as die pad nie na wense herstel is nie. Hierdie plan sal behels dat P&L Hardeware, die klub se borg, self hand in die sak gaan steek om slaggate te herstel.

Die Kremetart-fietswedren beloof om hierdie jaar groter en beter te wees as ooit te vore. Vanjaar is daar voorsiening gemaak vir 2 000 inskrywings in die hoofwedren. Inkomste wat die Kremetart sal genereer, sê Van Jaarsveldt, word konserwatief geraam op ongeveer R10 miljoen. “Ons is positief dat hulle [kontrakteurs] wel die pad in rybare toestand sal hê. Ons vertrou so. Die Kremetart sit Makhado (Louis Trichardt) op die map,” sê hy.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines