

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 08 March 2002
LOUIS TRICHARDT – Van die streek se beste rugbyspanne het Saterdag (2de) mekaar die stryd aangesê tydens die jaarlikse Conway Rugbydag en dit was veral die plaaslike spanne wat goed vertoon het.
Die dag se verrigtinge het afgeskop met 'n wedstryd tussen Louis Trichardt III en Levubu II. Levubu was egter die sterker span op die veld en wen hul kragmeting 10-5. Hul punte was te danke aan twee drieë wat gedruk is deur Philip Boardman en Werner Prinsloo. Vir Louis Trichardt het Giel van Zyl 'n drie gedruk.
Die tweede span van Messina het daarna teen die tweedes van Letaba te staan gekom. Letaba het egter deurlopend die wind van voor gekry, met Messina wat 25-3 met die blaas van die eindfluitjie seevier. Sylvan de Ridder, Zane Landman, Clifford Tlou en Dawie Lubbe druk elkeen 'n drie vir Messina, terwyl Hansie Roets een doelskop en een strafskop deur die pale stuur.
Die kragmeting tussen Louis Trichardt se tweedes en Messina se eerstes het vir 'n paar naelbyt oomblikke gesorg. Beide spanne het goed vertoon, met Louis Trichardt wat net-net nie deur die verdediging kon breek nie. Slegs Messina slaag daarin om punte aan te teken in die eerste helfte in die vorm van twee strafskoppe deur onderskeidelik Johan Meyer en Bradley Waren. Messina was ook die enigste span wat punte kon aanteken in die tweede helfte met 'n onderskep-drie deur Vincent Janse van Rensburg. Dié drie is deur Hansie Roets verdoel en met die plaas van die eindfluitjie was die telling 13-0 in die guns van Messina, alhoewel dit nie regtig 'n ware refleksie van die wedstryd was nie.
Levubu se eerste span wen ook hul wedstryd, deur 22-17 met Centurion Polisie af te reken. TE Smit gaan kuier twee keer agter Centurion se doellyn, terwyl Hannes Smit en Christiaan Cohen elk een drie gaan druk. Slegs een van die drieë is deur Niel de Finn verdoel.
Die hoofwedstryd tussen Louis Trichardt I en Pilditch I het 'n titaniese stryd opgelewer. Binne die eerste vyf minute teken Louis Trichardt punte aan met 'n drie deur Holtman Fourie wat verdoel is deur Jan van Blerk. Pilditch het egter nie op hulle laat wag nie en gaan druk kort daarna ook 'n drie. Dié drie kon egter nie verdoel word nie. Jan van Blerk het 'n verdere drie punte op die telbord geplaas met 'n strafskop. Teen halftyd was die telling 10-5 in die guns van Louis Trichardt.
Met die aanbreek van die tweede helfte skuif Pilditch hul telling op na agt punte met 'n strafskop, waarna Walter Pretorius van Louis Trichardt 'n drie gaan druk en Jan van Blerk 'n strafskop deur die pale stuur. Pilditch slaag egter daarin om weer te gaan druk, maar met die blaas van die eindfluitjie is die telling 18-13 in die guns van Louis Trichardt.
Twee ander wedstryde is ook die dag beslis. Letaba I behaal 'n weghol-oorwinning in hul kragemting teen Duivelskloof, terwyl Pilditch se tweedes afreken met 'n gekombineerde span.
Holtman Fourie van Louis Trichardt is na afloop van die wedstryde aangewys as die Beste Conway Agterspeler van die Dag, terwyl Carel Erasmus van Levubu wegstap het met die trofee vir Beste Conway Voorspeler van die Dag. Die beste span van die dag was Louis Trichardt I, terwyl Levubu I en II aan-gewys is as die netjiesste spanne.

ADVERTISEMENT:
