

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 07 February 2003
LOUIS TRICHARDT - Die dorp se eerste krieketspan het Sondag (2de) hul kragmeting teen 'n baie sterk span van Ofcolaco (Tzaneen) op hul tuisveld verloor.
Louis Trichardt het die loot verloor en is ingestuur om eerste te kolf. 'n Bestendige aanvangsvennootskap tussen Glen McLeod (23) en Leon Fourie het die telling na 28 geneem, voordat die eerste paaltjie gekantel het. Hierna het Louis Trichardt 'n paar vinnige paaltjies verloor en met die telling op 42/5, was hulle ietwat in die moeilikheid. Joubert Fourie (14) en Pieter Jooste (22) het egter vasgeskop en 'n 43 lopie vennootskap om die sewende paaltjie gebou. Hulle goeie werk is voortgesit deur Peewee van der Merwe (31) en Pierre Jonker (16). Die laaste paaltjie het geval met die telling op 147 in die 44ste beurt. Louis Trichardt het gevoel dat, alhoewel hulle te min lopies aangeteken het, hulle nog steeds 'n buite kans gehad het om die wedstryd te wen.
Ofcolaco het vroeg 'n paaltjie verloor met die telling op 9, maar daarna het Paul Wiltshire tot die kolfblad toegetree. Wiltshire speel vir die Limpopo NCD span en hy het 'n kolfvertoning gelewer wat Gilchrist soos 'n vyfdag speler laat lyk. Wiltshire het 109 (nie uit nie) aangeteken en hy het sy eerste 50 lopies vanaf slegs 16 balle gemoker. Louis Trichardt het daarin geslaag om nog twee paaltjies te kry, voordat Ofcolaco die telling verbygesteek het om met sewe paaltjies te wen. Robert Janse van Vuuren (2/17 in vyf beurte) was Louis Trichardt se beste bouler op die dag.
Louis Trichardt se eerstespan gaan hul volgende wedstryd in Maart speel, wanneer hulle aan die Limpopo krieketunie se uitklopliga in Polokwane sal deelneem. Eerskomende Sondag sal die dorp se tweedespan te staan kom teen Thohoyandou op eersgenoemde se tuisveld.

ADVERTISEMENT:
