

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 23 July 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die jaarlikse Hanglip 54-gholftoernooi van die Soutpansberg Gholfklub is die afgelope naweek hier deur Kobus Barkhuizen (jr.) gewen.
Dit is die derde keer dat hierdie jong speler die gesogte Hanglip 54-trofee verower. Vanjaar se oorwinning was vir hom ‘n bykomende verjaardagbonus. Tydens die prysuitdeling, wat saamgeval het met sy verjaardag, het hy spesiale waardering uitgespreek vir die ondersteuning wat hy van sy ouers ontvang het.
Altesaam 128 spelers uit alle dele van die land het op al drie dae aan die byeenkoms deelgeneem. Besoekende spelers het hoë lof gehad vir die bekwame wyse waarop die byeenkoms georganiseer is en vir die toestand van die plaaslike gholfbaan. ‘n Lid van die besoekende span van Phalaborwa het tydens die prysuitdeling die byeenkoms geloof as ‘n gewilde jaarlikse hoogtepunt vir gholfspelers in die provinsie.
Op die laaste dag van die byeenkoms het ‘n lid van die plaaslike klub, Tjol Jandrell, ‘n volmaakte kolhou by die sesde putjie behaal. Dit het hom nogals ‘n duur rondte by die kroeg gekos later die aand.
Kobus Barkhuizen (jr.) is as wenner bekroon, nadat hy oor die loop van drie dae altesaam 108 individuele Stableford punte opgestapel het. Nog ‘n junior, DJ Burger, was tweede met 105 punte. Kort voor die aanvang van die byeenkoms was DJ die wenner in die Junior Ope byeenkoms in Polokwane (Pietersburg).
Met die afsluiting van die byeenkoms het die president van die Soutpansberg Gholfklub, mnr. Schallie van Schalkwyk, sy waardering uitgespreek teenoor die klub se personeel en bestuur, die besoekende gholfspelers en die borge van die byeenkoms. Hy het gesê die plaaslike gholfklub is finansieel afhanklik van sulke gholfdae.
Die eerste Hanglip 54-byeenkoms is in 1994 aangebied. Mnr. Van Schalkwyk het daarop gewys dat die plaaslike klub sedert sy ontstaan in 1953 reeds ‘n oop klub was, wat deur die jare niemand verontreg het nie en gevolglik geen “transformasie”-agterstand het nie.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
