

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 21 January 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die dorp se eerste krieketspan het hulle jaar op Sondag, 9 Januarie op ‘n goeie noot afgeskop met ‘n pragwen oor Tzaneen.
Louis Trichardt het eerste gekolf, maar hul kolfbeurt het redelik wankelrig begin. Met die telling op 51/3 het Wallie Janse van Rensburg en PW van der Merwe egter die tuisspan se kolfbeurt gestabiliseer en die telling aangeskuif tot 134, voordat PW sy paaltjie verloor het met sy telling op 28.
Wallie het steeds die lopies opgestapel voordat sy paaltjie geval het met sy telling op 87. Hy is goed ondersteun deur Brendan Bridge wat op ‘n onoorwonne 48 lopies geëindig het met Louis Trichardt se telling op 244 vir die verlies van nege paaltjies na 45 boulbeurte.
Tzaneen het van meet af gesukkel en die paaltjies het vinnig gekantel. Die enigste kolwers wat bietjie weerstand gebied het was Morné wat op 58 een van Brandon se twee slagoffers geword het, en Harry wat op 14 (n.u.n) geëindig het. Louis Trichardt se boulers wat die grootste skade aangerig het, was PW van der Merwe (4/15 in agt beurte), Brendan Bridge (2/28 in ses beurte) en Leon Furstenburg (1/8 in 5 beurte).
Louis Trichardt se eerstes sou die naweek teen Ofcolaco gespeel het, maar die wedstryd is afgestel weens reën.

ADVERTISEMENT:
