

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 30 July 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARD) – Die dorp se eerste rugbyspan het Saterdag (24ste) te midde van strawwe teenstand daarin geslaag om hul Super 6-kragmeting teen Letaba se eerstes te wen.
Letaba se swaarder pak voorspelers het veral die lewe moeilik gemaak vir Louis Trichardt se eerstes, maar in die agterlyn het Louis Trichardt beter vertoon met vinnige agterlynbewegings.
Dinge het voorlangs egter beter begin lyk vir Louis Trichardt met Smous Venter terug op vaskopstut en Chris Swart weer op haker. Pikkie Botha en die span se ou “strydros”, Jorrie Jordaan, het op hulle beurt met mening ingeklim onder hul swaarder opponente.
Soos genoem was Louis Trichardt agterlangs in volle beheer van die wedstryd, danksy hul kaptein en losskakel, Mauritz Adendorff, wat tans die beste rugby van sy loopbaan speel. Hy is goed bygestaan deur TJ Smit op skrumskakel en Theuns Botha op senter.
Met die blaas van die eindfluitjie was die telling 27-19 in die guns van Louis Trichardt. TJ Smit het twee drieë vir sy span gedruk, terwyl Theuns Botha een keer agter die pale gaan kuier het. Theuns het ook drie doelskoppe en twee strafskoppe deur die pale gestuur.
Die wedstryd was egter nie sonder beserings nie. Een van Louis Trichardt se staatmaker-spelers, Michael Maynier (flank) het ‘n ernstige skouerbesering opgedoen wat hom moontlik buite aksie sal stel vir die res van die seisoen.
Louis Trichardt se tweedes het op hulle beurt ‘n geweldige nederlaag gelei, deur hul wedstryd 10-54 te verloor. Henry Viljoen het die span se enigste drie gedruk, terwyl Jan van Blerk een strafskop en een doelskop deur die pale gestuur het.
Die derdes het ook hul wedstryd verloor, met 19 punte teenoor 24. P. Venter het gesorg vir twee drieë, terwyl D. Wiggill een drie druk. T. Pienaar het gesorg vir twee suksesvolle doelskoppe.
Die klub se volgende Super 6-wedstryd is op 7 Augustus teen Pietersburg Dorp in Polokwane.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
