ADVERTISEMENT:

 

Danie Meyer van Louis Trichardt het 'n "grote" uitgetrek toe hy op 5 April hierdie mooi karp by die Beja Hengelparadys by die Albasinidam gevang het. Die vis, wat weer vrygelaat is, se geskatte gewig blyk net meer as 10kg te kon wees.

Beja-kompetisie snel vinnig nader

 

Sport  Date: 10 April 2015

 

Dit lyk asof die Soutpansberg nog ‘n vaste jaarlikse geleent­heid op sy sosiale en toerisme kalender ryker geword het. Dit is vanjaar die derde keer dat die Beja Baber Visvangkompetisie die laaste naweek van April (die 25ste en 26ste) plaasvind.

Volgens die organiseerders van hierdie kompetisie, die NG Kerk Levubu-gemeente, is dit nog een van al die moontlike geleenthede wat die besondere karakter en ligging van die Soutpansberg omgewing ontgin. “Met  byeenkomste soos hierdie word kapitaal vanuit ander dele van die land in ons omgewing ingebring en dit verhoog direk en indirek, soos met die Kremetart Fietswedren, die waarde van ons hele gebied. Die tyd vir hierdie kompetisie is ook so gekies dat dit nie bots met ander groot visvang geleenthede nie,” sê die gemeente se ds. Petrus Kriel.

Die kompetisie vind plaas by die Beja Heng­el­paradys aan die voet van die kranse by Goedehoopkop, die mees suidelike punt van die Soutpansberg. “Die ligging maak visvang en ontspanning in die natuurskoon sommer een en dieselfde erva­ring. Die ontwikkeling van hierdie terrein, wat nou al twee toegeruste lapas en onbeperkte kampplek het, is ideaal vir georganiseerde byeenkomste,” sê Kriel.

Die pryse is vir oe­wer- en boothengelaars. Die grootste baber deur juniors en die grootste karp deur seniors is verlede jaar van die oewer af gevang. Maklik gaan dit egter nie wees nie. “Omdat die vis nie meer so maklik byt nie, is die uitdaging vir die groot pryse nog groter,” sê Kriel.

Die gemeente sê ook dat daar hierdie jaar weer vleispakkies en etes die hele Saterdag en Sondag te koop sal wees. Daar word ook die hele naweek musiek gemaak en vir kinders vermaak gereël. Verlede jaar het verskeie deelnemers van buite die Soutpansberg-omgewing, wat aan die nuwe Seekoei Bergfietswedren in Levubu deelgeneem het, vertel hoe besonders die omgewing met al die variasie in kontoere en natuur vir hulle is. Hierdie nuwe roete in Levubu is daarom ook vir hierdie huidige jaar aanvaar as een van die kwalifiserende geleenthede vir Limpopo kleure in bergfietswedrenne.

“Die Soutpansberg gemeenskap het oor die laaste 20 jaar ons natuurskoon ontgin met gastehui­se, privaat toere en privaatoorde. Die geleenthede om mense wat teen geboue vaskyk en net op teerstrate rondry na georga­niseerde byeenkomste in ons omgewing te lok, lyk nog onuitputbaar te wees,” sê Kriel.
 

 

 

Written by

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines