

ADVERTISEMENT:

Laerskool Louis Trichardt se eerstespan het hulle opponente gestoomroller tydens die vakansie se Sonskyn Vallei Toernooi.
Sport Date: 17 April 2015
Die afgelope skoolvakansie was toertyd vir die rugbyspanne van Laerskool Louis Trichardt.
Spanne wat deelgeneem het aan die Sonskynvallei Rugbytoernooi op Marble Hall was die eerste-, tweede- en O/11-spanne. “Dit was ‘n opwindende toer; baie dankie dat ons die geleentheid gekry het,” het die spanne gesê.
Elke span het vier wedstryde gespeel op die toer.
Die O/11’s en tweedespan het hulle goed van hul taak gekwyt en het waardevolle ondervinding opgedoen. Dit was egter die eerstespan wat uitgeblink het en gewys het waarvan hulle gemaak is.
Hulle wen al vier hul wedstryde. Die eerstes klop Laerskool Kreft 39-0, Laerskool Warmbad oortuigend met 70-0, Laerskool Klipfontein word 31-0 kafgedraf en Laerskool Stefanus Roos delf die onderspit 22-10.
Na afloop van die toernooi is die eerstespan ook aangewys as die toernooi se Beste Span, die span wat die meeste drieë aangeteken het, asook die span met die afrigters en ouers wat die beste gees gehad het. Justin Pieterse, Errie Simon en Franco Knoetze van die eerstespan is ook gekies vir die Sonskynvallei-span.
Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles.

ADVERTISEMENT:
