

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 08 April 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Met ‘n skittergooi van 16.51m tydens Atletiek Suid-Afrikaanse junior- en jeugkampioenskappe, het Marli Knoetze die beste afstand vanjaar deur enige vrou in Suid-Afrika aangeteken.
Marli (17) kort net 2cm om die Afrika junior O/20-rekord te laat spat.
Hierdie prestasie in die O/20-gewigstoot en ‘n 44.26m gooi in die O/20-diskus in reënweer het aan Marli twee goue medaljes besorg tydens die kampioenskappe wat op 1 en 2 April in Germiston beslis is.
“Ek is so trots op Marli ek weet nie wat om met myself te maak nie,” sê Willie Knoetze, Marli se pa. Haar afrigter, mnr. Robbie Robberts, is net so tevrede.
Marli word allerweë beskou as die gunsteling om die SA senior gewigstoottitel in te palm op 15 en 16 April in Durban. In die diskus is Marli een van die drie beste vroue in die land.
Marli se afstand van 16.51m in die gewigstoot is 20 cm verder as haar vorige persoonlike beste wat sy op 18 Februarie vanjaar in Polokwane tydens die jaarlikse inter-hoërskole byeenkoms gegooi het. In April verlede jaar, tydens die ASA-kampioenskappe in Bloemfontein, het Marli die Suid-Afrikaanse O/18-diskusrekord laat spat met ‘n afstand van 51,63m.
Na die SA senior kampioenskappe in Durban gaan Marli vir so drie tot vier weke rus. Die matriekwerk moet egter aangaan en Marli sê dis harde werk om matriek so saam met die drie ure oefen per dag te behartig.
“Maar dit is die moeite werd,” glimlag Marli.
Haar skoolhoof, mnr. Henri Denner van Hoërskool Louis Trichardt, staan ‘n oomblik by tydens die neem van die foto’s. Hy is duidelik trots op hierdie blink ster van die skool.
In Mei begin Marli weer oefen vir die Afrika Junior Atletiekkampioenskappe wat aan die einde van September in Egipte aangebied word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
