

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 15 April 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Reaksie van die huidige en vorige bestuurslede van die plaaslike muurbalklub dui daarop dat hulle nie genoeë neem met ‘n eensydige besluit ten opsigte van die voorgestelde ligging van die nuwe muurbalbane nie.
Dit volg op die voorgestelde hersonering van die dorp se sportgronde vir die oprigting van ‘n omstrede inkopiekompleks. Nadat dit aan die einde van verlede jaar gelyk het asof die planne vir die sloping van die sportfasiliteite om plek te maak vir die nuwe winkelkompleks laat vaar sou word, is die hersonering van die sportgronde aan die begin van hierdie jaar weer geadverteer.
Mnr. Riaan Joubert, voorsitter van die Louis Trichardt Muurbalklub, sê dat die klub in ‘n skrywe gedateer 18 Februarie gemeld het dat die klub inspraak wil lewer in die ligging van die nuwe muurbalbane. Hulle is ontevrede met die voorgestelde ligging, wat aangedui is as die suidoostelike hoek van die rugbyveld aangrensend tot die minibus-staanplek.
“Sekuriteit sal daar ‘n groot probleem wees,” sê mnr. Joubert.
Die voorsitter het nog geen antwoord op die klub se skrywe ontvang nie.
Die munisipaliteit het alreeds vir die klub kennis gegee dat hulle huurkontrak in April verval. Intussen kan hulle die bane nog gebruik.
Stigterslede van die Louis Trichardt Muurbalklub en vorige bestuurslede het ‘n reünie bygewoon by die bane op 6 April. Die geleentheid was ‘n huldeblyk aan die mense wat die inisiatief geneem het om die muurbalfasiliteite daar te stel.
Mev. Marika de Villiers, die eerste sekretaresse van die muurbalklub, kan nog onthou toe muurbalentoesiaste sowat 27 jaar gelede bymekaargekom het en die behoefte aan muurbalbane geïdentifiseer het.
“As ek nou nog gespeel het, sou ek met hand en tand baklei het. Daar moet ook eers ‘n nuwe baan wees voordat hulle die ou een platslaan. Dit vat jou so lank om muurbalfiks te word, jy kan nie vir ‘n tyd lank nie speel nie,” sê mev. De Villiers. Sy en haar man, dr. Wim de Villiers, was kranige muurbalspelers. Mev. Marina Stoop was ook ‘n bekende speler.
Mnr. Jan Joubert, die eerste voorsitter van die klub, sê dat die belangstelling in muurbal deurentyd baie groot was. Daar was altyd so tussen 120 en 160 lede.
“Ons het ‘n groep gevorm en met die munisipaliteit onderhandel vir muurbalbane. Theuns Kotzé was in daardie stadium die stadsingenieur en hy het ook die oorspronklike planne opgetrek na standaarde,” onthou mnr. Joubert, vader van die huidige voorsitter. Twee bane is gebou en die glasmuurbaan het sowat vier jaar later bygekom.
Mnr. Joubert sê dat hy nie ‘n probleem met ontwikkeling het nie, maar dat hy ‘n probleem het indien daar nie in die beplanning met die huidige muurbalklub bestuur onderhandel word op watter standaard die bane gaan wees en waar dit geleë gaan wees nie.
“Die munisipaliteit moet hul belang in sport behou. Soos enige ander sport is muurbal baie belangrik vir die dorp, veral vir die jongmense,” sê Joubert.
Die huidige voorsitter, Riaan, sê dat die klub tans bo aan die punteleer is met ses wedstryde gespeel en vier wat voorlê. Hulle volg klaarblyklik in die voetspore van die eerste spelers wat skaars twee jaar na die ontstaan van die klub die Verre-Noord Liga teen Pietersburg, soos destyds bekend, gewen het.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
