

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 06 August 2004
ENGELAND - Van die wêreld se beste kleiteikenskuts het in Julie na Engeland gereis vir deelname aan onder meer die 70ste jaarlikse DTL (Down the Line) Britse Ope en die wêreldkampioenskap.
Te midde van die sowat 500 skuts wat aan die onderskeie toernooie deelgeneem het, was dit veral twee jong plaaslike skuts van Louis Trichardt, Samantha (15) en Jessica Pennells (18), wat behoorlik die wêreld aan die praat gehad het.
Samantha en Jessica het saam met pa Howard vanaf 9 tot 11 Julie deelgeneem aan die Britse Ope. Hier het hulle as juniors menige gesoute en ouer skuts in die senior damesafdeling ore aangesit. Samantha eindig algeheel 7de in die damesafdeling van die toernooi met 285 punte uit ‘n moontlike 300, terwyl Jessica 9de eindig met 284 punte uit ‘n moontlike 300. Hul prestasie as juniors was so goed dat hulle onder meer blootstelling gekry het in ‘n Engelse streekskoerant bekend as The Journal. Pa Howard het op sy beurt onder die top twintig skuts geëindig in sy afdeling.
Hierna het pa en dogters gaan deelneem aan die wêreld kleiteikenkampioenskap in Bywell, Northumberland, vanaf 15 tot 17 Julie. Weer het Samantha en Jessica teen dieselfde gesoute senior dames skuts deelgeneem as tydens die Britse Ope. Ongelukkig vir hulle kon Jessica en Samantha dié keer slegs onderskeidelik ‘n 25ste plek en 32ste plek inpalm. Die twee se gesamentlike tellings oor die drie dae was onderskeidelik 699 punte uit ‘n moontlike 750 en 692 punte uit ‘n moontlike 750. Pa Howard het op sy beurt heelwat beter gedoen as tydens die Britse Ope en eindig algeheel vierde in die A-klas vir mans met ‘n telling van 886 punte uit ‘n moontlike 900. Suid-Afrika het besonder goed gedoen in dié klas met ook die top drie posisies wat gegaan het aan Suid-Afrikaanse skuts.
Steeds was dit het einde niet vir die twee Pennells dogters. Aangesien hulle nie die afsnyteiken kon haal vir senior nasionale kleure in Suid-Afrika nie, is hulle tydens die wêreldkampioenskap gevra om as ‘n dames uitnodigingspan deel te neem aan die spankompetisie. Die span het bestaan uit Samantha, Jessica en Michelle Giessler van Gauteng. Die drie het alle verwagtinge oortref en eindig algeheel derde in die spankompetisie met ‘n telling van 1701 punte uit ‘n moontlike 1800. Nieu-Seeland was eerste met 1711 punte uit ‘n moontlike 1800 en Engeland tweede (na ‘n uittel), ook met 1711 punte.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
