

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 10 June 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die vyftiende Kremetart Fietswedren, wat deur die jare gegroei het tot een van Suid-Afrika se gewildste fietswedrenne, het Saterdag (4de) weereens sy kwota opwinding opgelewer.
Vanjaar se Kremetart het sowat 1 850 deelnemers in al drie die items (175km-, 100km- en 20km-wedrenne) gelok. Alhoewel die hoofwedren minder inskrywings gelok het as in die verlede vanweë die feit dat die 100km ook nou as kwalifisering dien vir die Cape Argus, het die Kremetart algeheel gegroei in populariteit. Na wat verneem word het net oor die 700 fietsryers ingeskryf van die 100km (sien uitslae elders in dié uitgawe).
Vanaf die wegspring in die 175km-hoofwedren was dit hoofsaaklik die fietsryspanne van Thabiso en Tuks wat mekaar die stryd aangesê het. Dié titaniese stryd is uiteindelik ook weerspieël in die finale uitslae met breukdele van sekondes verskil tussen die wenners en naaswenners in die vier skofte van die wedren.
Die fietswedren was egter nie sonder drama nie. Winningtime, die maatskappy verantwoordelik vir tydhouding, het klaarblyklik reeds teen die einde van die eerste van die vier skofte probleme begin ondervind met hul tydmeting van elke renjaer. Dit het veroorsaak dat die verkeerde persone aanvanklik aangewys is as onderskeidelik die senior mans wenner, naaswenner en derdeplek wenner van die Kremetart.
Aanvanklik is Willie van Zyl van Thabiso aangewys as algehele wenner van die Kremetart, met Arnold Pretorius van Tuks in die tweede plek en Morné Bester van Thabiso in die derde plek. Na regstellings gemaak is as gevolg van die verkeerde tye wat aangeteken is, het die finale uitslag van die senior mansafdeling egter teen Woensdag heel anders daarna uitgesien.
Volgens die hersiene finale uitslag is die Kremetart gewen deur Arnold Pretorius met ‘n totale tyd van 04:12:57. Willie van Zyl, wat aanvanklik eerste was, is nou tweede met ‘n totale tyd van 04:13:00. Morné Bester, wat aanvanklik aangewys is as derdeplek wenner, het algeheel sewende geëindig met die derdeplek wat gaan aan Juan van Heerden. Die probleem met die tye het groot ongelukkigheid onder die renjaers veroorsaak, maar dit moet duidelik gestel word dat die tydmeting onafhanklik staan van die plaaslike organiseerders van die wedren, die P&L Hardeware Fietsklub.
Die finale uitslag van die senior vroue-afdeling het onveranderd gebly vanaf Saterdag met Suid-Afrika se top vroue-fietsryer, Ronel van Wyk van Bionic, wat vir die twee agtereenvolgende jaar die louere inpalm. Sy voltooi die wedren in ‘n totale tyd van 05:09:36. Marissa van der Merwe van Proline was tweede in ‘n tyd van 05:09:40, met Emery Dianne in die derde plek in ‘n tyd van 05:09:42. Ook hier was daar strawwe kompetisie met slegs ‘n paar sekondes wat die top posisies van mekaar onderskei.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
