

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 10 June 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die 100 kilometer wedren van die Kremetart Fietswedren het 537 fietsryers gelok en was allerweë as ‘n reuse sukses bestempel.
Wenner Stephen Oberholzer het die wedren bestempel as “een van die lekkerste wedrenne in ‘n lang tyd” en spesiale melding van die goeie reëlings en bystandvoertuie en personeel gemaak. Dié kranige 27-jarige fietsryer van Potchefstroom het die 100km voltooi in ‘n tyd van 2:43:55 en het ‘n gemiddelde spoed van 36,6km per uur gehandhaaf. Stephen sê dat hy op die pad soontoe hom verkyk het aan die pragtige omgewing, want “ons het nie berge waar ons vandaan kom nie!” Met die terugpad, sê hy, was daar egter nie meer kans vir rondkyk nie.
Dit strook ook met die verloop van die wedren. Nadat al die fietsryers in kleurvolle bondels deur die dorp gery het, het Oberholzer met Hennie van Niekerk van Polokwane kort op sy hake teen Ottoshoogte op weggekom van die pak. Hulle twee het tot onderkant Schoemansdal voorgery. Daar het die pak hulle ingehaal en ‘n goeie wisseling van verskillende renjaers wat voor gewerk het, het plaasgevind. Vyf kilometer voor die omdraaipunt het die tweemanskap weer gebreek. Die pak het hulle nooit weer ingehaal nie. Stephen en Hennie het mooi saamgewerk in die wind op die pad terug en beurte geneem om voor te trap.
“Teen Ottoshoogte, so 500m van die kruin het Stephen weggebreek en dit was net veel vir Hennie. Vir 1,5km het Stephen oopgemaak en voor gebly op die afdraande dorp toe,” vertel wedren skeidsregter Frans Gerber. Stephen het rustig oor die wenstreep gery gekom. Hennie het sowat twee minute na hom oor die wenstreep gery met ‘n tyd van 2:45:40. Sy gemiddelde spoed was 36.22. Die derde fietsryer om die 100km te voltooi was Johan Grimbeek met ‘n tyd van 2:52:56.
Die eerste tandem om in te kom was Stephen en Andrew Dixon. Met hulle tyd van 2:54:59 was hulle ook algeheel negende. Die eerste dame oor die wenstreep in ‘n tyd van 3:09:03, was Shael Harris, wat algeheel 25ste was. Die eerste gemengde tandempaar was JP en Ria Hatting met ‘n tyd van 3:00:05.
Die Zero to Hero-uitdagingsgroep van die dorp het hulle staal gewys. Volgens organiseerder, Koos Engelbrecht, het sowat sestig tot sewentig van die groep die 100km-uitdaging aanvaar. Calvin Collet was die eerste Zero to Hero-man oor die wenstreep (27ste uit 537 met ‘n tyd van 3:10:56). Renata Joubert was die eerste Zero to Hero-dame om die wedren te voltooi (117de uit 537 met ‘n tyd van 3:31:59).
Een van Zero to Hero se groot geeste, Meyur Patel, bekend as “Major” het tevrede geglimlag toe hy na die wedren gelukgewens is deur Koos Engelbrecht. “Major” is aangewys as die Happiest Challenger.
Die 30km pretrit se deelnemers was almal uiters in hul skik met hul tye, net om later uit te vind dat hulle net 20km getrap omdat die roete wat aanvanklik beplan is op die nippertjie nie gebruik kon word nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
