

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 30 April 2004
MUSINA – 'n Voormalige rugbyspeler en hoofseun van Laerskool Messina en van Eric Louw, Conrad Hodgson, speel deesdae rugby in Japan waar hy op 2 en 9 Mei uitdraf vir Honda.
Conrad, wat sy beroepsrugbyloopbaan in die Verenigde State begin het, het 'n ernstige kniebesering opgedoen net voor die Wêreldbekerbyeenkoms en kon tot sy groot teleurstelling nie vir die Amerikaanse nasionale span deelneem nie.
Hy het egter kort voor sy besering 'n kontrak geteken om in Japan rugby te speel. Ses maande gelede het hy 'n knie-operasie ondergaan en moes sedertdien 'n intensiewe herstel-program deurloop.
Na afloop van sy wedstryde in Japan gedurende die eerste helfte van Mei, sal Conrad terugkeer na die Verenigde State om in die laaste helfte van die maand en in Junie en Julie aan verskeie toetswedstryde vir die VSA-span deel te neem. Dit sluit wedstryde in teen die span van Kanada, Rusland, Engeland, die Nieu-Seeland Maoris, Frankryk en Japan.
Conrad, wat sedert sy verblyf in die VSA al as kaptein van die Amerikaanse nasionale span opgetree het, het in Suid-Afrika vir die Blou Bulle se O/19- en O/21-spanne gespeel, terwyl hy aan die Universiteit van Pretoria gestudeer het vir 'n graad in bemarking.
Hy was vir drie van sy vier jaar by die klubspan OMBAC in San Diego, Kalofornië, klubkaptein. Conrad speel in die flank posisie.

ADVERTISEMENT:
