

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 12 August 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - In ‘n harde en senutergende wedstryd het Louis Trichardt se eerste rugbyspan vasgebyt om ‘n sege in die semifinaal te beklink teen Letaba op 6 Augustus. Die dorp se eerstes dring nou deur na die finaal.
Louis Trichardt moes in een van sy hardste wedstryde hierdie seisoen diep delf en met groot durf speel om Letaba te troef. Lakwerk en verdediging uit die boonste rakke, saam met toewyding tot die einde toe, het Letaba laat steier.
Die eerste helfte is gekenmerk deur fisiese duikslae deur Louis Trichardt, uitgevoer om Letaba se groot aanslag te weerstaan. Letaba het na die eerste helfte stewig in die saal gesit met ‘n voorsprong van 13-5.
Na aanleiding van Letaba se aanslag in die eerste helfte het niemand kon dink Louis Trichardt sou opstaan nie. ‘n Plek in die finaal het maar skraal gelyk vir die dorp se eerstespan. Soos die wedstryd egter verder ontvou het, kon ‘n mens duidelik sien dat die wil en honger vir wen vir ‘n plek in die finaal van die eerste liga groot was aan die Louis Trichardt kant.
Die manne het met nuwe ywer begin speel en veral losskakel Theuns Botha, skrumskakel Teiman Jongbloed en vleuel Jan Roos het ‘n groot rol gespeel in die ommeswaai van die wedstryd. Theuns het met ‘n skitter breekslag die gate in Letaba se mondering en verdediging uitgewys en daarna was daar geen keer aan Louis Trichardt nie. Die dorp se eerste span het losgetrek en Letaba verpletter met ‘n eindtelling van 41-13. Dit het ‘n absolute skitterende spanpoging geverg om daardie plek in die finaal te beklink.
Louis Trichardt se derdespan was egter ongelukkig om nie hulle wedstryd te wen nie en verloor met een enkele punt. Die telling was 27-26.
Die dorp se eerste span speel op 20 Augustus op Polokwane teen Pietersburg in die finaal. Die span bedank al hul getroue ondersteuners en nooi hulle weereens uit om Louis Trichardt se eerstes in Polokwane te kom ondersteun. Die afskoptyd van die wedstryd sal nog bekendgemaak word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
