

ADVERTISEMENT:

Cheetah loskopstut Danie Mienie het die afgelope vakansie bietjie in sy tuisdorp kom kuier en Woensdag gou by die Zoutpansberger kom inloer. Afgeneem is van links na regs “Bloubul vaskopstut” George Janse van Rensburg (bemarker by die Zoutpansberger), “haker” Ronel Welman (administratiewe beampte by die Zoutpansberger) en Danie.
Sport Date: 08 January 2016
Cheetah loskopstut Danie Mienie het die afgelope vakansie sy rugbystewels uitgeskop en bietjie kom afsaal op sy oupa se plaas in die Vivo-omgewing vir ‘n welverdiende ruskans. Hy is egter glad nie vreemd aan Louis Trichardt en die streek nie en bly in murg en been ‘n Soutpansberger.
Danie het in 2005 sy laerskoolloopbaan voltooi by Laerskool Soutpansberg. Daarna is hy na Hoërskool Merensky (Tzaneen) waar hy in 2009 gematrikuleer het. Sy wortels was egter maar altyd in Louis Trichardt gevestig waar sy ouers, Nicky en Rita, en ouma, tannie Sufrene, steeds woonagtig is. Hy het Woensdag by die Zoutpansberger ingeloer vir ‘n vinnige onderhoud, voordat hy die lang pad terug na Bloemfontein aangepak het.
Danie sê rugby was maar nog altyd in sy bloed. “Vandat ek bulletjierugby begin speel het, was dit maar nog altyd iets wat ek wou doen,” sê Danie. Ná skool het hy die geleentheid aangegryp om ‘n professionele beroep in rugby na te jaag, deur in 2010 aan te sluit by die Zululand Rugby Akademie in Empangeni, Natal.
Reeds in sy eerste jaar daar is sy rugbytalent raakgesien en is hy uitgenooi na die Sharks se O/19-rugbyproewe. Kort daarna is hy ook gekies vir die Sharks se O/21-rugbyspan en draf hy in 2011 en 2012 as stut vir die span uit. In 2012 word hy ook gekies as stut vir die Sharks se Vodacom Beker-span.
2013 was egter die jaar waarin Danie vir homself goed naam gemaak het op beide nasionale en internasionale vlak. In April van daardie jaar maak hy sy debuut as loskopstut vir die Sharks in hul Superrugby-kragmeting teen die Chiefs in Hamilton, Nieu-Seeland. Dit was ‘n strawwe wedstryd met die Sharks wat net-net 29-37 verloor in die laaste vyf minute van die wedstryd. “Dit was great gewees! Ek was al oorsee gewees, maar om jou eerste Superrugby-wedstryd saam met die bekende ‘ou manne’ soos Jannie en Bismark du Plessis, Willem Alberts en Jean Deysel te speel is ongelooflik,” sê Danie.
Ook in 2013 maak Danie sy Curriebeker-debuut vir die Sharks. Dit was dieselfde jaar wat die Sharks dié gesogte beker inpalm deur WP (Westelike Provinsie) op Nuweland 33-19 te klop.
Die daaropvolgende jaar was egter minder goed vir Danie. “2014 was vir my ‘n slegte jaar weens beserings wat my uitgehou het. Rugby werk maar so. As jy nie 100% is nie, het hulle nie baie vertroue in jou nie omdat jy so lank uit die game was,” sê Danie.
Danie sê hy het teen begin Oktober 2014 gesien sy tyd word min by die Sharks, maar kort daarna het nog ‘n deur vir hom oopgegaan. Sy agent het hom laat weet dat Cheetah-afrigter Naka Drotske belangstel om hom in te sluit vir die Cheetahs se groter begingroep vir die 2015 Superrugby-reeks. ‘n Maand later, in November, trek Danie die Cheetah-trui oor sy skouers.
Danie het gedurende die 2015-seisoen 16 keer uitgedraf vir die Cheetahs. Hy sê sy lekkerste wedstryd was toe hulle in Februarie verlede jaar die Sharks op King’s Park in Durban 35-29 geklop het. Dit is ook heel duidelik dat die Cheetahs baie vertroue in hom het, aangesien hulle onlangs nog ‘n twee-jaar kontrak met hom geteken het, tot 2017.
Op ‘n vraag oor wie hom die meeste teëstand op plaaslike bodem in die skrum gee, sê Danie skertsend: “Ek soek nog na daardie ou.” Meer ernstig sê hy dat WP se Frans Malherbe hom nogal opdraande gee. Op internasionale vlak, sê Danie, is sy strafste teenstand die Crusaders van Nieu-Seeland se Owen Franks. “Dit is taai manne daardie,” sê Danie.
Oor die lewe na rugby sê hierdie 24-jarige rugbytalent dat hy nie sover vooruit beplan nie. Vir nou fokus hy net op die onmiddellike en hul eerste Superrugby-kragmeting teen die Argentynse Jaguares op 26 Februarie. Tog noem hy dat hy nie sal omgee om eendag bietjie in Frankryk te gaan rugby speel nie. Hy bly ook steeds lief vir die bos. “Op skool het ek al besluit dat as die rugby nie uitwerk nie, ek graag op ‘n wildsplaas wil gaan werk omdat ek lief is vir die bos,” sê Danie.
Danie het darem nie alleen kom kuier nie. Hy het die liefde in sy lewe, Courtney Bell, ‘n Engelse nooi van Natal, saamgebring. Courtney, sê hy, is net so lief vir rugby soos hy. Hoe dan anders, haar pa is ‘n afrigter by die Sharks Rugby Akademie en sy het ook grootgeword met rugby.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
