ADVERTISEMENT:

 

Die Olivier-gesin van Louis Trichardt het onlangs deurgedring na finaal van die Nissan LA Sport 4x4 Gesin van die Jaar kompetisie.

Olivier-gesin gaan deelneem aan finaal van Nissan 4x4-kompetisie

 

Sport  Date: 19 August 2005

 

MAKAHDO (LOUIS TRICHARDT) - Die eerste Nissan LA Sport 4x4 Gesin van die Jaar kompetisie is deur die loop van die jaar deur LA Sport 4WD Megastores en Nissan SA aangebied, met die Olivier-gesin van Louis Trichardt wat tot die finaal van dié unieke kompetisie deurdring.

Die Oliviers het nog altyd ‘n passie gehad vir 4x4-ry en die bos, veral om as ‘n gesin te kan uitkamp. Volgens Willem en Elzeth is dit vreeslik ontspannend en gee dit ‘n mens kans om nader aan die skepping en die Skepper te kan kom. Elkeen in die gesin geniet die uitkamppery en Willem het ook ‘n baie mooi Engelse uitdrukking gebruik - “a family that plays together stays together”. Willem is ‘n elektroniese oorlogvoeringstegnoloog en Elzeth ‘n onderwyseres. Saam met hul twee tienerdogters, Lizaan en Corlia, gaan hulle gereeld op uitstappies. Lizaan kyk altyd vir die voëlspesies en Corlia neem graag foto’s as daar uitgekamp word. Willem en Elzeth kyk gewoonlik vir die flora.

Die gesin sal vanaf 23 September tot 1 Oktober hul slag tydens die finale safari deur Botswana en Zambië wys, waar hulle met vyf ander gesinne sal moet meeding vir die groot prys. Die groot prys is ‘n volledig-toegeruste Nissan Hardbody 2.4 4x4-dubbelkajuitbakkie tesame met ‘n Conqueror Supra-veldsleepwa wat ook al die nodige veldtoerusting soos ‘n yskas, kombuis en tente bevat. Die tweede prys is 4x4-toerusting ter waarde van R30 000 en die derde prys is 4x4-toerusting tot die waarde van R20 000. Behalwe vir die groot pryse beloof die 4x4-kompitisie om groot pret te wees. Die gesin sal nie net hul slag met hul Toyota Hilux 4x4-bakkie moet wys nie, maar sal ook op ander terreine geëvalueer word soos kampering, konvooi, organisering, noodhulp, kosmaak in die veld, navigasie, herstel van ‘n voertuig in die bos en gesinsinteraksie. Die Olivier-gesin sal bitter graag die eerste prys wil wen, maar vir hulle gaan dit nie oor wen en verloor nie. Die hoofdoel is om die tyd as ‘n gesin te geniet en die prys is net ‘n bonus. Hulle sal net graag hul vriende en kollegas van beide kante bedank vir hul morele ondersteuning, hulp met borgskappe en die manier hoe hulle altyd die gesin moed inpraat voor ‘n kompetisie.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines