

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 26 August 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die twee top eerste rugbyspanne in Limpopo, Louis Trichardt se dorpspan en Pietersburg Dorp, het Saterdag (20ste) in Polokwane gesorg vir skitterende rugby tot in die doodsnikke van die wedstryd.
Louis Trichardt tree met eer uit die stryd, maar moes die knie buig voor Pietersburg dorp. ‘n Strafskop in beseringstyd voor die pale het gesorg dat Pietersburg die wedstryd met 18 punte teenoor Louis Trichardt se 15 gewen het.
“Dit is ‘n strafskop wat almal nog steeds bevraagteken. Ons verloor eerder ‘n wedstryd met dertig punte as met drie punte op so ‘n manier, en dit nogal in die finaal,” sê afrigter en speler, Phillip Potgieter.
“Die wedstryd sou met vyftien punte elk en geen speeltyd oor nie in ekstratyd van tien minute elk ingegaan het, maar die strafskop, wat tussen die kwartlyn en tien treë lyn in die middel van die veld aan Pietersburg gegee is, was die laaste van ons bekerdroom. Met so min te kies tussen die twee spanne, sou ‘n ekstra tien minute aan ‘n kant, die hoogtepunt van ‘n skitterende seisoen en wedstryd gewees het,” sê Potgieter.
Louis Trichardt, wat op die dag deur vele as die beste span op die veld beskou was, het in alle fasette van die spel oorheers, maar kon net nie die beker huis toe bring nie.
Die pak voorspelers het met durf ingeklim, en die tipe spel wat elke voorspeler gelewer het, het weerspieël hoe honger die manne was om die beker te wen. Rudi Joubert het onder die voorspelers gewoel en het ook agter die pale gaan kuier met ‘n skitterdrie. Agterlangs het vleuel Werner Lee gaan druk. Werner Lee en Ian Roos het met hulle vaart gate deur en om Pietersburg genael. Al het Ian Roos min van die bal gesien, was hy nog steeds ‘n doring in die vlees van die opponente se verdedigers.
“Ian is ‘n jong speler wat met genoeg blootstelling nog groot rugby kan speel; ek sou hom graag teen Bryan Habana wou sien,” sê Potgieter.
“Die verloor was nie lekker nie, maar die manne het met eer uit die stryd getree.”
Die dorp se eerstes bedank al hulle getroue ondersteuners wat al die pad Polokwane toe gery het en almal wat hulle so getrou deur die jaar bygestaan het.
Alle spelers, ondersteuners en belangstellendes word hartlik uitgenooi na die rugbyklub se AJV op Donderdag, 25 Augustus, om 18:30. Na afloop van die vergadering sal daar ‘n gratis braai wees. Almal word ook genooi na die jaareindfunksie op Saterdag, 10 September. Kaartjies is beskikbaar by die Rugbylapa teen R50 per kop.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
