ADVERTISEMENT:

 

Generic image

T20-liga begin in alle erns

 

Sport  Date: 25 February 2016

 

Met die T20 Wêreldbeker om die draai, het plaaslike T20-spanne die afgelope naweek die eerste wedstryde gespeel in die volgende rondte van die gewilde Limpopo Dairy 20/20-liga.

Op 20 Februarie het die Mustangs teen die Vikings te staan gekom, terwyl Limpopo Dairy en Ridgeway College mekaar die stryd aangesê het.

In eersgenoemde kragmeting wen die Vikings die loot en besluit om eerste te kolf. Die span word almal uitgeboul met 91 lopies op die telbord. Die enigste spelers wat dubbelsyfers met die kolf kon aanteken was Zander Welthagen (20), Marius Meintjies (18) en Coenie Oosthuizen (15). Vir die Mustangs was bouler Terrance Pienaar in goeie vorm en trek drie paaltjies plat vir die verlies van 20 lopies in sy toegelate vier boulbeurte. Hy is goed ondersteun deur Louis van Jaarsveld, wat twee paaltjies laat kantel in slegs een boulbeurt vir die verlies van slegs een lopie.

Die Mustangs mag dalk gedink het dat hulle die teiken maklik sou haal, maar dit was nie die span beskore nie. Dit was ‘n naelbytwedstryd, maar met hul telling op 86 lopies was al die Mustang-kolwers terug in die paviljoen, wat aan die Vikings ‘n vyf-lopie oorwinning besorg het. Dit was ten spyte van kolwer Terrance Pienaar se 44 lopies met die kolf in die Mustangs se beurt. Spanmaat Dirk van den Berg het 15 lopies geslaan. Vir die Vikings was Warno Smit verwoestend met die bal, Hy neem vier paaltjies vir die verlies van slegs sewe lopies in drie beurte. Mede-bouler Frikkie van Niekerk palm op sy beurt drie paaltjies vir die verlies van 21 lopies in vier beurte in. Warno word ook as Speler van die Wedstryd aangewys.

In die ander wedstryd kolf Limpopo eerste en moker ‘n goeie 150 lopies vir die verlies van slegs twee paaltjies in hul toegelate beurte. Vir Limpopo was die ster-kolwers Chrisjan Hendriks (75) en Leon Olwage (52 nie uit). Die enigste Ridgeway bouler wat sukses met die bal gehad het, was M. A. Pofn wat beide paaltjies plattrek vir die verlies van 48 lopies.

Ridgeway was nooit regtig in die wedstryd nie en word almal uitgeboul met slegs 37 lopies op die telbord, wat aan Limpopo ‘n agt-paaltjie oorwinning besorg. J. Goolam was die enigste kolwer wat vir Ridgeway dubbelsyfers kon behaal en teken 15 lopies aan. Vir Limpopo is die meeste skade met die bal gedoen deur Gerrie Oelofse, wat ses paaltjies laat kantel het vir die verlies van net 12 lopies in vier boulbeurte. Brendan Bridge trek op sy beurt drie paaltjies plat vir die verlies van vyf lopies. Vir sy skittervertoning met die bal word Gerrie aangewys as Speler van die Wedstryd.

Eerskomende Saterdag, 27 Februarie, sal die volgende rondte wedstryde beslis word wanneer Ridgeway teen die Vikings op Cloud's End se veld te staan kom, terwyl Jolly en die Mustangs op die dorp se A-veld sal sake uitspook. Beide wedstryde begin om 13:00.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines