

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 09 September 2005
MAKHADO – Met ‘n pragvertoning in die gewigstoot het Marli Knoetze op 4 September ‘n nuwe Afrika rekord opgestel.
By die Afrika Junior Atletiekkampioenskappe, wat gehou is by die Rades Stadium in Tunis, hoofstad van Tunisië, was Marli seker een van die blinkste sterre met twee goue medaljes en ‘n skitterende rekord.
Marli verbeter die Afrika junior gewigstootrekord met haar persoonlike beste afstand van 16.93m. Die vorige rekord is gehou deur Veronica Abrahamse, ook van Suid Afrika, met ‘n afstand van 16.53m wat ses jaar gelede opgestel is. Marli verbeter dus die ou Afrika rekord met 40cm en verbeter ook haar eie persoonlike beste met 42 cm. Hierdie uitmuntende atletiekster het ‘n baie goeie dag belewe, want drie keer het sy die ou Afrika rekord verbeter met gooie van 16.57m, 16.66m en 16.93m.
Marli se gewigstoot afstand van 16.93m verbeter nie alleen die Afrika junior rekord nie, maar is ook die verste afstand wat die afgelope twee jaar onder alle vroue, junior en senior, gestoot is. Marli het in die loop van hierdie jaar beide die senior dames en junior dames gewigstoot titels ingepalm tydens die senior en junior Suid Afrikaanse Atletiekkampioenskappe wat onderskeidelik in Durban en Germiston gehou is. Met haar vertoning van 16.93m skuif Marli nou op na die sesde plek in die gewigstoot in Suid-Afrika van seniordames van alle tye, terwyl sy nog op skool is.
Die atletiektrots van Hoërskool Louis Trichardt het met groot gemak die gewigstootitem gewen as die prestasies van die ander deelnemers in ag geneem word. Die silwer medalje wenner was Ghada Ghezal van Tunisië met ‘n afstand van 12.97m en in die derde plek vir die brons medalje was Sara Hasseib van Egipte met ‘n afstand van 10.95m.
Na die byeenkoms het Marli gesê dat sy na die matriekeksamen 17 meter wil stoot.
Verder het Marli ook die diskustitel op 1 September, openingsdag van die kampioenskapsbyeenkoms in Tunis, gewen met ‘n afstand van 46.44m. Sara Hasseib van Egipte was hierdie slag tweede met 46.11m en Ghada Ghezal van Tunisië derde met 37.48m. Agtien lande het deelgeneem aan die tweejaarlikse Afrika Junior Atletiekkampioenskapsbyeenkoms. Suid-Afrika het 25 medaljes by hierdie byeenkoms gewen: tien goud, waarvan sewe deur meisies gewen is en twee deur Marli, nege silwer en ses brons medaljes. In die tweede plek was Kenia met 15 medaljes en in die derde plek was Sudan, met 13 medaljes.
Marli se vlug vanaf Tunisië land op Woensdagoggend (7de) op die Johannesburg Internasionale Lughawe. Haar afrigter, mnr. Robbie Robberts van Levubu, het haar vergesel.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
