ADVERTISEMENT:

 

Kampioenatleet Marli Knoetze is terug van die Afrika Junior Atletiek Kampioenskappe in Tunisië met twee goue medaljes vir die gewigstoot- en diskusnommers.

Marli praat oor goue-oes in Tunisië

 

Sport  Date: 16 September 2005

 

MAKHADO - Kampioenatleet Marli Knoetze is terug van die Afrika Junior Atletiek Kampioenskappe in Tunis met twee goue medaljes en ‘n skitterrekord.

Die sewentienjarige Marli, ‘n leerling van Hoërskool Louis Trichardt, het die Afrika rekord verpletter met haar tweede, derde én vierde gooie in die gewigstoot. Dit was daardie derde stoot van 16.93m wat die Afrika rekord met 40 cm verbeter het. Marli het ook ‘n goue medalje in die diskus verower en was die beste Suid-Afrikaanse atleet van die byeenkoms.

Hoe voel Marli oor haar vertonings in en die reis na Tunisië? Die span van sowat 35 atlete het saamgevlieg en “dit was die lekkerste span sover”. Dit was ook besonders vir Marli dat hulle in Parys oorgestaan het. In Tunisië aangekom, het hulle na ‘n vakansieoord teen die Middellandse See gereis waar die atlete tuisgegaan het. As gevolg van die versengende Mediterreense hitte word die byeenkoms soggens van 08:00 tot 10:00 aangebied en saans vanaf 17:00 tot 21:00.

Die eerste dag van die byeenkoms het Marli haar goue medalje in die diskus verower met ‘n afstand van 46.44m.

“My diskus was nie so agtermekaar soos die gewigstoot nie, maar ek het my bes probeer. Omdat die gewigstootrekord naby was, het ons meer intensief vir die gewigstoot voorberei,” sê Marli, wat beskeie is oor haar persoonlike beste afstand van 51.63m in die diskus. Sy sê sy weet nie wat verlede jaar (April) sou gebeur het dat sy daardie afstand gegooi het nie.

Buiten vir ‘n bietjie probleme met die inweeg van haar bal en die onverstaanbare Frans, het alles seepglad verloop met die gewigstoot op 4 September. Marli het die dag tevore rustig by die oord deurgebring.

“Alles het reggeloop met daardie gooi. Ek was baie bly oor die rekord en my afrigter ook. My mikpunt was eintlik 17m, maar in hierdie stadium is ek tevrede met 16.93m. Dit is net 7 cm kort van 17m,” sê Marli, wat nie een oomblik op haar louere rus nie. “My afrigter sê ‘n mens moet nooit tevrede wees met jou afstand nie.”

Marli sê dat die medaljetoekenningseremonie amper soos die Olimpiese Spele is. Sy het van oor tot oor geglimlag toe sy die goud ontvang en die vlag gehys word en die volkslied gespeel word.

“Al die harde werk was die moeite werd. My afrigter het gesê hy is baie trots op my.”

Vir haar afrigter, mnr. Robbie Robberts van Levubu, het Marli net die grootste lof.

“Hy motiveer my baie. Die manier hoe hy in my glo, help my baie. Ek sal nie by iemand anders oefen nie.” Marli sê sy praat uit ondervinding, want sy moes by een geleentheid saam met iemand anders oefen en dit het nie gewerk nie.

Marli is tans in matriek en het klaar besluit dat sy volgende jaar op Levubu gaan bly sodat sy by haar afrigter kan oefen.

“Ek sal vir ‘n universiteit deelneem, moontlik Tukkies of Potch, maar ek gaan tuis bly,” sê Marli, wat voel dat as sy ‘n jaar wag en voltyds oefen, sy beter sal weet wat sy regtig wil studeer. Die moontlikhede wat sy tans oorweeg sluit in sportsielkundige, persoonlike afrigter en sportdeskundige.

Intussen is dit vir Marli lekker om terug te wees.

“Ek het my ma-hulle die meeste gemis. En my vriend. Ek is bly ek is hier vir die matriekafskeid,” sê Marli, wie se rok al klaar reg hang om aangetrek te word.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines