

ADVERTISEMENT:

Eerste tuis in die 70km-wedren vir mans was senior ryer Heine Engelbrecht (middel) in ‘n tyd van 02:50:26. Tweede oor die wenstreep was meester Henry Hayes (links) in ‘n tyd van 03:00:02, gevolg deur veteraan Jan-Louis Pretorius (regs) in 03:03:28.
Sport Date: 18 March 2016
Digte mis en ‘n uiterse nat baan was nie genoeg om deelnemers se geesdrif te demp tydens die immer gewilde Munnik Meerkat Bergfietsuitdaging wat Saterdag by Munnik beslis is nie. Die Munnik Meerkat word jaarliks baie professioneel aangebied deur die Munnik Boerevereniging.
Meer as 50 gesoute bergfietsryers het die harde-trap 70 km-wedren aangedurf, ten spyte van ‘n baie nat en modderige baan. Eerste tuis was senior ryer Heine Engelbrecht in ‘n tyd van 02:50:26. Sy tyd was agt minute vinniger as die wentyd van 2015, ten spyte van die moeilike ry-omstandighede. Tweede oor die wenstreep was meester Henry Hayes in ‘n tyd van 03:00:02, gevolg deur veteraan Jan-Louis Pretorius in 03:03:28.
Die eerste drie plekke in die 70km vroue-wedren het Saterdag gegaan aan ‘n paar vroue wat glad nie vreemd is vir die podium nie. Ook hulle het goed gery ten spyte van die nat baan en al drie die eerste vroue tuis se tye was beter as die algehele wentyd van 03:56:39 verlede jaar. Baie deelnemers het opgemerk dat die nat baan hulle eintlik beter pas, want dan hoef hulle nie so hard te werk in die droë, los sand waarvoor die Munnik Meerkat bekend is nie. Vanjaar se wenner was Britt Dando in ‘n tyd van 03:34:53. Sy is gevolg deur Dorothy Rood, verlede jaar se derde plek wenner, in ‘n tyd van 03:37:16. Verlede jaar se algehele wenner van die 70 km-vrouewedren, Louwrina Dando, moes vanjaar tevrede wees met ‘n derde plek in ‘n tyd van 03:43:02.
Vanjaar se 35km-bergfietswedren vir mans het nie sonder voorval verloop nie. Die groep van sowat 10 jong gunstelinge om die wedren Saterdag te wen, uit ‘n wegspringgroep van meer as 180 deelnemers, is almal gediskwalifiseer. Dit nadat hulle, as deel van die voorste bondel, ‘n verkeerde afrit gevat het en uiteindelik vier kilometer minder as die res van die veld gery het. JP Venter het egter mooi opgelet na die roete-aanwysings en eerste geëindig in ‘n tyd van 01:21:41. Sheldon Muller was tweede in ‘n tyd van 01:25:15, gevolg deur Hoërskool Louis Trichardt renjaer Turner de Swardt in die derde plek in ‘n tyd van 01:25:50.
‘n Kortkop agter die manswenners van die 35km-wedren was die vroueryers. Eerste tuis was verlede jaar se tweede plek wenner in die wedren, Ashley Murray, in ‘n tyd van 01:26:55 – ‘n volle 13 minute vinniger as haar tyd van verlede jaar. Verlede jaar se wenner van die wedren, Soretha Lubbe, moes vanjaar tevrede wees met ‘n tweede plek in ‘n tyd van 01:33:57, gevolg deur Melanie Melville in die derde plek in ‘n tyd van 01:39:06.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
