ADVERTISEMENT:

 

Kremetart Fietswedren

Klub wil Kremetart weer gemeenskap s’n maak

 

Sport  Date: 25 March 2016

 

Die Soutpansberg sal op 4 en 5 Junie weer gasheer speel vir een van die streek se grootste sportgebeurtenisse, die jaarlikse Kremetart Fietswedren.

Een nuwigheid ten opsigte van vanjaar se 175 km- en 70 km-padfietswedrenne op 4 Junie is dat die wedrenne nie meer soos vorige jare voor die Toerisme Inligtingsentrum op die N1 sal wegspring nie. Deelnemers sal vanjaar vanaf Hoërskool Louis Trichardt se sportvelde (Leeupark) wegspring. "Die besluit om die wedren na die hoërskool se sportterrein te verskuif, is geneem vanweë die logistieke nagmerrie ten opsigte van verkeerbeheer wat ons elke jaar ondervind op die N1," het Stanley Thompson van die Soutpansberg Fietsryklub gesê.

Volgens Thompson wil hulle graag weer die wedren vestig as 'n volwaardige gemeenskapsgeleentheid. Deels het die besluit om die wedren na die hoërskool te verskuif, ook groter gemeenskapsbetrokkenheid ten doel. "Ons wil die wedren binne die gemeenskap inbring," het Thompson gesê.

Wat vanjaar se 175 km-wedren betref, sal deelnemers oorkant die Louis Trichardt Rolbalklub in Ruhstraat wegspring. Vandaar sal hulle opdraai in Andersonstraat en weer regs in Stubbsstraat tot by die verkeersirkel op die N1. Vanaf die wegspring tot by die verkeersirkel sal 'n neutrale area wees waar deelnemers nie mag jaag nie - dit kan hulle eers doen as hulle by die verkeersirkel die Soutpansberg aandurf, tot by Waterpoort op die eerste skof van die wedren. Vandaar sal hulle Vivo toe ry vir middagete (tweede skof). Die derde skof is vanaf Vivo tot by Schoemansdal Veldskool, met die laaste skof vanaf die veldskool na Louis Trichardt.

Die 70 km-wedren sal ook voor die rolbalklub wegspring, maar deelnemers sal dadelik regs draai in Andersonstraat af, tot in Rissikstraat, vanwaar hulle na die Sandrivierbrug en terug sal jaag.

Inwoners moet nou reeds daarvan kennis neem dat bogenoemde gedeeltes van Ruh-, Anderson- en Stubbsstraat (ten opsigte van die 175 km-wedren) vanaf 05:00 tot 07:00 totaal gesluit sal wees vir verkeer. Wat die 70 km-wedren betref, sal daar vanaf 08:00 tot 12:00 gereguleerde verkeersbeheer wees in Anderson- tot Rissikstraat en vanaf Rissik uit op die Vivo-pad. Vanaf 15:00 tot 17:00 sal hierdie gedeelte egter weer totaal gesluit wees vir motoriste, in afwagting op die terugkeer van deelnemers in die 175 km-wedren. "Die hele konsep van paaie sluit is eenvoudig - as net een fietsryer raakgery word, was die wedren nie suksesvol nie," het Thompson gesê.

Die bergfietsryers sal Sondag, 5 Junie, kans kry om hul vernuf te wys tydens die Kremetart XCO-wedren. Die wedren beloof om weer heelwat jong nuwelinge te lok met bergfietsry as groeiende sportsoort. Die eerste wedrenne sal vanaf 08:00 vanaf die Hanglip Bosboukantore wegspring.

Total is vanjaar se hoofborg van die Kremetart, nadat PPC Cement nie weer hul drie-jaar borgskap van die Kremetart hernu het nie. KFC sal ook weereens die borg wees van die Kiddies Race die Saterdag. Ander ou bekendes is egter steeds daar, soos Tafelrondte Zoutpansberg 66 wat weer die Saterdagaand se potjiekosete vir fietsryers sal aanbied. Die personeel van LMB Makhado sal op hulle beurt weer die biertuin hanteer. Alle aktiwiteite, insluitend die prysuitdeling, sal op die hoërskool se sportterrein plaasvind.

Intussen kan mense wat graag 'n stalletjie wil bespreek, vir Rina Vermeulen skakel by tel. 083 297 6925. 'n Uitstalruimte kos R500 vir die naweek. "Die enigste voorwaarde is dat daar nie 'n duplikasie van stalletjies en produkte sal wees nie," het Thompson gesê.   

 

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines