ADVERTISEMENT:

 

CP van Wyk, voor in die groen-en-goud nasionale kleure van die USSA-span, afgeneem tydens die wegspring van die 120 km-padfietswedren tydens die sewende Wêreld Universiteite Fietsrykampioenskappe in die Filippyne. Foto verskaf.

CP spog met sesde plek

 

Sport  Date: 26 March 2016

 

Dit is nie elke dag dat ‘n boerseun van die Soutpansberg die kans kry om op internasionale vlak met van die wêreld se top sportmanne kragte te meet nie.

CP van Wyk, ‘n oud-leerling van Hoërskool Louis Trichardt en tans student aan die Universiteit van Stellenbosch (Maties), het juis hierdie unieke geleentheid gekry toe hy gekies is as deel van Universiteit Sport Suid-Afrika (USSA) se padfietsspan wat vanaf 16 tot 20 Maart gaan deelneem het aan die sewende Wêreld Universiteite Fietsrykampioenskappe in die Filippyne.

CP was een van drie Maties wat die totale USSA-mansspan uitgemaak het. Sy mede manlike spanmaats was Hans-Werner Heuer en Max Sullivan. Twee vrouestudente, Elmarie de Wet en Andrea de Boer van die Universiteit van Pretoria  (Tukkies), het die USSA-vrouespan uitgemaak.

CP en sy spanmaats het verlede week in die stad Tagaytay in die Filippyne aangekom. Daar het maar ‘n besige skedule vir hulle voorgelê – alles ter voorbereiding van die groot padwedren op Vrydag, 18 Maart.

Te midde van strawwe kompetisie van studente uit ten minste 17 lande, insluitend top name uit Europa en Amerika, beklink CP ‘n algehele sesde plek in die uitmergelende en bergagtige 120 km-padfietswedren. “Dit was ‘n  120 km-padfietswedren op ‘n pad wat, soos CP laat weet het, ‘die ergste was wat hy in sy lewe gery het – net berge!’” het ma Ralda van Levubu Vrydag die Zoutpansberger laat weet.

CP was maar ‘n skrale vier minute en 29 sekondes agter die algehele wenner van die wedren, Cyrus Monk van Australië, in ‘n tyd van 03:13:17. Tweede was Maral-Erdene Batmunkh van Mongolië in 03:13:42 en in die derde plek was Alexander Weifenbach van Duitsland in ‘n tyd van 03:13:52. Vierde oor die wenstreep was Boots Ryan Cayubit van die Filippyne in 03:14:00, gevolg deur Andre Crispim van Portugal in 03:17:30 en toe CP.

“Ons is ons Vader so dankbaar vir die geleentheid wat CP gehad het, en nog meer dat alles goed gegaan het en hy kan terugkom met die wete hy het sy beste gegee en homself laat geld teen die bestes in die wêreld!” het Ralda gesê.

Buiten dat CP gekies is as spanlid is sy pa, André, saam met Errard Sullivan gekies as spanbestuurders. Die span het op 11 Maart na die Filippyne vertrek en beplan om teen Donderdag, 24 Maart terug te keer.

Ralda het namens hul gesin en CP almal bedank vir hul oproepe, SMS'e en Facebook-boodskappe. “Die ondersteuning was ongelooflik! CP het so baie nuwe vriende gemaak, en ek hoor hy wil nou net oorsee gaan om te gaan fietsry,” het Ralda gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines