

ADVERTISEMENT:

Die jong Jan-Carel Pretorius (middel) het met sy baber van 21,71 kg die R20 000 as eerste prys gewen tydens die NG Gemeente Levubu se jaarlikse Beja Baber Bonanza. Links van hom staan borg Dawid van Graan van Pie City en regs is die gemeente se ds. Petrus Kriel. Foto verskaf.
Sport Date: 13 May 2016
Die 2016 Beja Baber Bonanza is weer met groot sukses deur die NG Gemeente Levubu die langnaweek van 30 April en 1 Mei by Beja Hengelparadys by die Albasinidam aangebied.
In totaal het 54 boothengelaars en 61 oewerhengelaars van regoor Limpopo aan hierdie vierde Baber Bonanza deelgeneem. Die toernooi is oor twee dae beslis. Die weer het egter vanjaar nie lekker saamgespeel nie, veral nie die skielike kouefront wat die streek dieselfde naweek getref het nie. Vangste was derhalwe maar bietjie aan die skraal kant. So ook is die nuwe Datsun Go, wat as prys gedien het vir die hengelaar wat die gemerkte baber vang, nie gewen nie. Hierdie gemerkte baber swem nog rustig in die dam rond. Volgens die gemeente se ds. Petrus Kriel oorweeg hulle reeds om volgende jaar die kompetisie bietjie vroeër aan te bied wanneer hengelomstandighede meer gunstig is.
In elke kompetisie moet daar egter ‘n wenner wees. Buiten vir die nuwe motor as prys, was die R20 000 as eerste prys vir die grootste baber die groot aantrekkingskrag. Vanjaar is hierdie prysgeld deur Jan-Carel Pretorius, 'n leerling van Hoërskool Merensky en inwoner van Levubu, ingepalm met sy allemintige vangs van ‘n baber van 21,71 kg. Hy en twee maats het van ‘n boot af gehengel.
Algeheel tweede was JD Botha, wat met sy baber van 6,51 kg R6 000 in sy sak steek, terwyl Michael Barlow naelskraaps algeheel derde eindig met sy baber van 6,5 kg. Hy wen R3 000.
Wat die juniors betref, steek jong Regardt Smit R3 000 in sy sak as eerste prys met sy 7,68 kg baber. Tweede junior was Karindi Smit met haar baber van 2,61 kg. Sy wen R1 000.
Die gemeente het na afloop van die kompetisie hul dank uitgespreek teenoor die dag se hoofborge, insluitend ZC Pretorius Versekering, Mount Fuji Motors, Talisman Plant & Tool Hire en Pie City. “Sonder hulle ondersteuning sou hierdie toernooi nie kon plaasvind nie,” het Kriel gesê. ‘n Groot dankie gaan ook aan Vhavenda Bricks, Vhembe Ys, Cycle Centre, Molozi Trust, RMW Trust en Rondebosch Abattoir vir hulle ondersteuning.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
