ADVERTISEMENT:

 

Marnus Leeb (regs) spog hierdie jaar met die gesogte Hanglip 54-trofee en sorg dat die trofee op eie bodem bly in die trofeekas van die Soutpansberg Gholfklub. Afgeneem saam met hom is die klubkaptein, Lappies Labuschagne.

Hanglip-trofee bly op eie bodem

 

Sport  Date: 15 July 2016

 

Louis Trichardt se plaaslike gholfspelers het hierdie jaar gesorg dat die gesogte Hanglip 54-trofee sy staanplek terugkry in die trofeekas van die Soutpansberg Gholfklub.

Marnus Leeb, alhoewel hy deesdae ‘n Pretorianer is, het as ‘n ingeskrewe lid van die plaaslike klub weggestap met die gesogte trofee. Die Soutpansberg Gholfklub het die afgelope naweek vir die 23ste agtereenvolgende jaar gasheer gespeel vir die Hanglip-toernooi, met Imperial GM Louis Trichardt as hoofborg.

Marnus het tydens die drie dae se spel altesaam 112 individuele Stableford-punte aangeteken om sy eerste plek te verseker. Oor die drie dae het spelers in spanne van twee daagliks deelgeneem, maar elkeen se individuele Stableford-telling is gebruik om 'n algehele wenner ná die derde dag te bepaal.

Wat die ander individuele uitslae betref, was Flippie Greyling van Louis Trichardt algeheel tweede met 111 punte en Jaco Froneman van Pretoria derde met 108 punte.

Louis Trichardt se 26 spelers, oftewel ‘perde’, het hulle eweknieë van die Klerksdorp Gholfklub oortuigend geklop. Daar is elke jaar groot kompetisie tussen dié klubs, soveel so dat daar al spesiaal ‘n trofee laat maak is. Hierdie jaar het Soutpansberg die beker gewen met ‘n totaal van 2 490 individuele Stableford punte, terwyl Klerksdorp die aftog moes blaas met ‘n telling van 2 418.

Wat die daaglikse kompetisies betref, is die eerste dag se spel gewen deur die Soutpansberg Gholfklub se president, Arie Steyn, en spanmaat, Flippie Greyling, met 48 punte. Rhyno Gerber en Brink Schlesinger was tweede met 47 punte en Bruce du Toit en L. Penzeler was derde met 46 punte op ‘n uittel.

Dag twee se spel is gewen deur Bruce en Pieter du Toit met 46 punte op ‘n uittel, gevolg deur A. du Plessis en Kobus Barkhuizen (junior) in die tweede plek, ook met 46 punte. A. Booyens en D. Swart was derde met 45 punte op ‘n uittel.

Saterdag en derde dag se spel is gewen deur die klubkaptein en president van die plaaslike klub, Lappies Labuschagne, en Arie Steyn met 47 punte op ‘n uittel. A. Rheeder en T. van Tonder was tweede, ook met 47 punte, gevolg deur Marnus en Anrich Leeb in die derde plek, ook met 47 punte op ‘n uittel.

Die Soutpansberg Gholfklub het ná afloop van die toernooi die volgende borge bedank vir hul bydraes en ondersteuning: Driepunt Elektries, Trio Pompe, Mauritz Senekal, Sandberg Vervoer, Raymond’s Glass, Africa Hardware, Bennie Smith, PG Glass, Macridge Farms, NTK Louis Trichardt, Tjol Jandrell, PJ Timbers, Louis Trichardt Lodge, Madi Tanks, PSG Konsult, Kumu Plant Hire, S&S Bande, Bridge Auto, Promo Place, Coca-Cola Fortune, SAB Millers Makhado, KB Struktureel, André Bothma, BB Mount Fuji, Speedbrake, Brake & Clutch, LTT Bolt & Nut, Vleismark Slaghuis, Vhavenda Bricks, Pro Shop Pretoria, Comien Veggies, Ayob Motors, Amakozi Tuindienste, Bosveld Trailors, Levubu Bande, Floors van Wyk, Springfield Farms, Percy Anderson, Marius Mostert, LTT Scrap Metals en Eqstra.

 

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines