ADVERTISEMENT:

 

Retief Goosen (regs) en opkomende plaaslike gholfspeler, Josh Jandrell, ten tye van die Limpopo Classic Sunshine Tournament in Polokwane.

Jong gholftalent skuur skouers met Retief Goosen

 

Sport  Date: 16 December 2005

 

“Hou jou fokus en neem die spel net hou vir hou,” is van die belangrike lesse wat ek by Retief Goosen geleer het.

So gesels ‘n opkomende jong gholfspeler van die dorp, Josh Jandrell, wat op 16 November as joggie vir die wêreldbekende gholfspeler Retief Goosen opgetree het tydens die Limpopo Classic Sunshine Tournament in Polokwane.

Josh het vir Goosen, wat vierde op die wêreldranglys lê, wenke gevra. Die sestienjarige Josh, wat onlangs as die Soutpansberg Gholfklub se Speler van die Jaar aangewys is, het die droom om ook in Retief se voetstappe te volg en eendag wêreldwyd te kan kompeteer.

Professionele afrigter, Ray Earle, wat voorheen vir Goosen afgerig het en tans vir Josh afrig, het gereël dat Josh ‘n geleentheid kon kry om Goosen se sak te dra. Earle het gesê dat Josh een van die belowendste jong spelers is wat hy nog onder hande gehad het.

Die manier waarop Goosen net kophou, agterstande verwerk en steeds bo uitkom, het Josh baie beïndruk.

“Jy moet vergeet van die toernooi, vergeet waar jy op die punteleer lê en speel net hou vir hou,” is wenke wat Goosen vir Josh gegee het. Josh het al die verskillende tipe houe wat kan gespeel word, fyn dopgehou. Ook Goosen se rustige en spontane geaardheid het dit vir Josh nie net ‘n leersame, maar ook ‘n aangename ondervinding gemaak.

“Op die baan is ek nou meer rustig oor elke hou,” sê Josh na afloop van sy leersame ondervinding.

“My spel het verbeter, maar oefening is nog steeds belangrik.” Josh kompeteer drie maal per week en die ander drie dae oefen hy twee tot drie ure per dag.

Josh se pa, Alex Jandrell, ook ‘n ywerige gholfspeler, stem saam oor die kwessie van baie oefening.

“Gary Player het mos gesê: Gholf is geluk - hoe meer jy oefen, hoe gelukkiger word jy,” sê pa Alex.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines