ADVERTISEMENT:

 

Pure determinasie! Le Roux sit alles in om die 130kg balk te lig in die Vicking Press-item. Foto verskaf.

Le Roux bult sy spiere

 

Plaaslike sterkman Leon le Roux het die afgelope naweek ‘n persoonlike mylpaal bereik deur die meestersklas van die kwalifiserende rondte van die Arnold Classic in Boksburg te wen.

Die 43-jarige Le Roux van LMB Makhado het ná Saterdag se sterkmankompetisie gesê dat hy homself verbaas het. “Dit is my eerste groot wen,” het Le Roux Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Le Roux het reeds in November verlede jaar gekwalifiseer vir deelname aan die Arnold Classic ná afloop van die Africa Strongest Man-kompetisie in Rustenburg, toe hy in die O/105 kg kategorie deelgeneem het. Sedertdien is daar ‘n meestersklas ingebring vir deelnemers ouer as 40 jaar.

“Ek het voorberei vir die O/105 kg-kategorie. Kort voor Saterdag se kragmeting het die organiseerders my egter laat weet dat ek gaan sukkel om dieselfde dag aan beide die O/105 kg- en die meesters-kategorie deel te neem. Ek het toe besluit om net aan die meestersklas deel te neem,” het Le Roux gesê.

Sy voorbereiding om deel te neem aan die O/105 kg-kategorie was tot sy voordeel. “Dié kategorie is baie meer kompeterend en die gewigte is ook baie swaarder. Dit was tot my voordeel dat die gewigte derhalwe nie so swaar was vir my in die meestersklas nie,” het Le Roux gesê.

Le Roux was een van vyf deelnemers in die meestersklas en die oudste deelnemer die dag. Die jonger sterkmanne het hom egter nie afgeskrik nie en Le Roux het hulle behoorlik ore aangesit.

Le Roux het in vier items deelgeneem. Dit het ingesluit die Truck Pull, waar hy ‘n nege-en-‘n-half ton vragmotor van stilstaande posisie oor ‘n afstand van 25 m teen tyd moes trek. Dan was daar die moordende Overhead Medley. Hierdie item het uit drie dissiplines bestaan, naamlik die One Arm Dumbel Press (waar ‘n 50 kg gewig met een arm bo die kop uitgestoot moet word), die Log Press (waar ‘n 100 kg gewig gelig en bo die kop uitstoot moet word) en die Vicking Press (die oplig van ‘n 130 kg balk). Die ander twee items het ingesluit die Farmer’s Walk (waar ‘n deelnemer met ‘n 110 kg gewig in elke hand oor ‘n afstand van 25m teen tyd moet stap) en die Car Deadlift (waar deelnemers 235kg repetisies met hul bene moet doen).

Le Roux het die Car Deadlift met ‘n ongelooflike 14 repetisies gewwen. “Ek kon self nie glo ek kon so baie doen nie,” het Le Roux gesê. So het hy ook die Overhead Medley en die Farmer’s Walk gewen. Die enigste item waarin Le Roux bietjie gegly het, letterlik, was die Truck Pull. “Ek het my tekkies by die huis vergeet en moes iemand se tekkies leen vir die item. Dit het veroorsaak dat ek bietjie gegly het aan die begin en hoofsaaklik net my arms moes gebruik om die trok te trek,” het Le Roux gesê. Tog was sy prestasie goed genoeg vir ‘n algehele derde plek.

Die afgelope naweek se sterkmankompetisie dien as voorloper vir die wêreldbekende Arnold Schwarzenegger se internasionale Arnold Classic wat vanaf 5 tot 7 Mei by die Sandton Konferensie Sentrum gehou word. Le Roux se wen die afgelope naweek het vir hom ‘n plek hier verseker. Le Roux is baie opgewonde oor sy deelname.  “Van die land se sterkste manne gaan daar wees,” het Le Roux gesê. Hy is tans besig met intensiewe voorbereiding hiervoor, maar ook vir die kwalifiserende rondte van die Africa Strongest Man-kompetisie wat in April by die Randse Paasskou gaan plaasvind.

Sport - Date: 12 March 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

Le Roux wen die Car Deadlift met ‘n ongelooflike 14 repetisies. “Ek kon self nie glo ek kon so baie doen nie,” het Le Roux gesê. Foto verskaf.

Die enigste item waarin Le Roux bietjie gegly het, letterlik, was die Truck Pull. “Ek het my tekkies by die huis vergeet en moes iemand se tekkies leen vir die item. Dit het veroorsaak dat ek bietjie gegly het aan die begin en hoofsaaklik net my arms moes gebruik om die trok te trek,” het Le Roux gesê. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: