

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 27 August 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHART) – Mens kom baie keer op stukkie geskiedenis af op die vreemdste plekke. Vir oom Gert Kloppers was dit ‘n kwessie van ‘n stukkie rugby-nostalgie.
Oom Gert het afgekom op ‘n ou rugbyfoto wat in Julie 1959 geneem is. Dit was ‘n foto van Hoërskool Louis Trichardt se senior toerspan wat wedstryde gaan speel het in die eertydse Rhodesië, ‘n span waarvan oom Gert lid was.
Nou al ‘n gryskop, onthou oom Gert die toer asof dit verlede week plaasgevind het. Baie van die jong gesiggies in die foto is vandag nog in die streek, baie van hulle is egter deur die jare oorlede.
Oom Gert vertel dat hul die lang pad na Rhodesië per bus aangedurf het. Die pad was ook nie dit waaraan die moderne jongmense van vandag gewoond is nie.
Onderweg het hulle egter by die plek verbygery waar hulle moes brandstof ingooi. Dit het vinnig donker geword en hulle het besef dat hulle êrens sal moet stilhou om te oornag. Toe was hulle reeds sowat 200 kilometer oor die Rhodesiese grens.
In hul soeke het hulle skielik ligte in die verte gewaar. Hulle het gestop en drie seuns afgevaardig om na die ligte te stap en hulp te ontbied.
Aanvanklik het die ligte naby gelyk. In die aand speel jou oë soms speletjies met jou en afstand is moeilik om te skat. Die ligte was veel verder as die paar “honderd” meter wat hulle gedink het, en na ‘n lang soek het die seuns onverrigter sake terug gekeer. Net daar is daar besluit om langs die pad te slaap.
Aangesien nie almal in die bus gepas het nie, het ‘n paar seuns in ‘n sloot lang die pad gaan inkruip. Die volgende oggend het hulle wakker geword onder bewaking van die eertydse Fauna en Flora. Tot hulle skok het die beamptes hulle meegedeel dat hulle die seuns die aand kom oppas het, aangesien ‘n trop leeus in dieselfde sloot net anderkant die pad gelê het. Gelukkig het die leeus klaarblyklik klaar geëet. Ten spyte van hul ondervinding het Hoërskool Louis Trichardt al hul wedstryde dié jaar gewen teen ondermeer Milton, Gweru, Ghatuma en Qweqwe.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
