ADVERTISEMENT:

 

Samantha en Howard Pennells het deel uitgemaak van die Suid-Afrikaanse kleiduifskietspan wat goed gevaar het tydens die wêreldkampioenskappe in Australië in April vanjaar.

Pennells-gesin in die kol by Wêreldkampioenskappe

 

Sport  Date: 05 May 2006

 

Die uithaler Pennells-skuts van Makhado (Louis Trichardt) het bygedra tot die Suid-Afrikaanse kleiduifskietspan in Australië se sukses met Howard Pennells wat vierde eindig in die Wêreldkampioenskap.

Eers het die Australiese nasionale kampioenskappe aan die beurt gekom, waar Howard en sy dogter Samantha uitgeblink het. Hierdie kompetisie het die wêreldkampioenskappe voorafgegaan en het in Wagga Wagga, Nieu Suid Wallis, Australië, plaasgevind. Die meeste deelnemers was van Nieu-Zeeland of Australië.

Op die eerste dag skiet Samantha ‘n 49/50 en kwalifiseer sy vir ‘n uitskietkompetisie, die enigste dame wat kwalifiseer. Sy eindig twaalfde. Die eerste plek se prysgeld was $5 000 en prysgeld is net aan die eerste 10 plekke gegee.

Met die dubbels behaal Howard ‘n tweede plek en wen ‘n silwer medalje.

Op 7 April begin die sewende Wêreld DTL (Down The Line) kampioenskappe, ook in Wagga Wagga, en daar was meer as 600 skuts van regoor die wêreld. Suid-Afrika het vir die eerste keer twee senior spanne asook ‘n juniorspan ingeskryf. Samantha en suster Jessica Pennells was die enigste dames van Suid-Afrika en kon weereens nie as ‘n span deelneem nie. Die derde dame het twee weke voor die kompetisie onttrek.

Samantha was die enigste dame wat gekwalifiseer het vir haar Senior Protea-kleure en was dus nie deel van die juniorspan nie.

Met die aanbreek van die eerste dag van kompetisie het die wind stormsterkte bereik en dit was bitter koud. Die Pennellse het haastig “thermal” onderhemde en truie gekoop om hulle te beskerm teen die ysige koue. Die wind beïnvloed Jessica en Samantha erg nadelig en beide skiet op die eerste dag hul swakste punte van die jaar. Ervaring tel in die guns van die manne en agt van hulle eindig in die algehele top tien persent en moet vir plekke uitskiet.

Samantha herstel reeds in die derde rondte en beide Samantha en Jessica skiet die volgende twee dae uitstekend. Samantha het egter te ver agter geraak met die eerste rondte en ‘n 22-jarige dame, Emma Wheeldon (AA-Klas) van Engeland, wen met ‘n totaal van 876/900. Samantha eindig baie goed met ‘n 31ste plek in die B-klas en ‘n 43ste plek in die senior dames klas. Jessica eindig in die18de plek in die C-klas en 67ste in die dames klas.

In die A-klas wen die Suid-Afrikaanse mans al die plekke vanaf die tweede tot die sesde plek. Howard (A-Klas) eindig in die vierde plek met ‘n totaal van 873/900, terwyl die jong juniorspan as die derde beste span in die wêreld uit die stryd tree.

“Die ondervinding was ongelooflik goed vir ons Suid-Afrikaanse span en ons sien uit na die volgende Wêreldkampioenskappe in 2008 in Ierland,” sê die Pennells gesin.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines