ADVERTISEMENT:

 

Een van die eerste 30-06 gewere in die Soutpansberg is aan oom Jurg Lombaard verkoop en die geweer is tans in besit van oom Hansie Lombaard (regs) wat baie jare reeds daarmee jag. Die ander Remington is steeds in die Stegmann-familie se besit en word nou deur Leanda Stegmann (links) gebruik vir jag. In die middel is Bernard Stegmann.

30-06 honderd jaar jonk vanjaar

 

Sport  Date: 19 May 2006

 

Die baie gewilde 30-06-jaggeweer is vanjaar 100 jaar reeds in gebruik. Om die 100ste bestaansjaar van die 30-06 te herdenk, hou die Bosveld Jagtersvereniging se Soutpansbergtak ‘n spesiale skietoefening op Saterdag, 20 Mei, op die plaas Nooitgedacht, 15km uit op die Levubu-pad.

Die 30-06 patroon is in 1906 deur die Amerikaanse weermag in gebruik geneem saam met die 1903 Springfieldgeweer. Een van die ontwerpspesifikasies was dat dit ‘n perd op 1000 treë moes kon doodskiet.

Die 30-06 kaliber is aan militêre diens onttrek in 1958 en vervang deur die 7,62 x 51 NATO kaliber. Drie geslagte soldate het dit deur die jare in verskeie dienswapens gebruik soos die 1903 Springfield, P17 Enfield, 1917 Browning MMG, 1918 A1 BAR LMG, Johnson LMG en die beroemde M1 Garand selflaai geweer.

Die 30-06 is vandag verreweg die gewildste jaggeweer ter wêreld soos gemeet aan verkope van nuwe jaggewere, ammunisie en herlaaikomponente. Die sukses van die 30-06 is te danke aan die goeie balans wat getref word tussen slaankrag en hanteerbaarheid. Die beskikbaarheid van ‘n groot verskeidenheid koeëls tussen 110 grein en 250 grein maak die “Dirty Old Six” ewe tuis op die vlaktes van die Karoo in die hande van ‘n springbok-jagter as in die Bosveld met koedoe en eland op die spyskaart. ‘n “Dertig Nul Kwes” was hy nog nooit as die jagter sy deel gedoen het nie.

Die eerste 30-06 is na die jagvelde van Afrika gebring deur President Theodore Roosevelt van Amerika in 1909 op ‘n tog van nege maande waartydens eksemplare van wilde diere versamel is vir die Smithsonian instituut.

Die eerste 30-06 gewere in die Soutpansberge is volgens inligting ‘n aantal Remington mod. 30S gewere wat in die vroeë jare dertig van die vorige eeu ingevoer is vanaf Amerika deur oud-dokter Stegmann. Een van die gewere het hy aan oom Jurg Lombaard verkoop en die geweer is tans in besit van oom Hansie Lombaard, wat baie jare reeds daarmee jag. Die ander Remington is steeds in die Stegmann-familie se besit en word nou deur Leanda Stegmann gebruik vir jag.

Wat Saterdag se oefening betref, is enige kaliber geweer welkom. Vir meer inligting kan die voorsitter van die BJV Soutpansberg-tak, Frans Heinlein, geskakel word by tel. 082 876 0614.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines