ADVERTISEMENT:

 

Sterkman Leon le Roux is die ene konsentrasie in die 370kg Yoke Walk-afdeling op dag twee van die Suid-Afrikaanse Sterkmankampioenskappe in Boksburg. Foto verskaf.

Silwer vir sterkman Leon by SA's

 

Plaaslike sterkman Leon le Roux het onlangs weer bietjie gaan spiere bult tydens twee sterkmankompetisies in Boksburg en lê tans tweede nasionaal in sy gewigsklas.

Die 44-jarige sersant-majoor van Lugmagbasis Makhado buite Louis Trichardt het sowat ‘n maand gelede deelgeneem aan ‘n kwalifiserende ronde vir beide die Suid-Afrikaanse en die Afrika kampioenskappe in Boksburg. Hy het goed vertoon en die onder 105 kg Meesters-afdeling gewen. Hy het vir ‘n volle 63 sekondes met ‘n 35kg gewig voor hom uitgestrek in die Front Hold gestaan en in die Cross Carry het hy die 110kg gewig oor ‘n afstand van 20m gedra.

Sowat drie weke later het Le Roux aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe (24 en 25 September) deelgeneem, ook in Boksburg. Hier het hy te staan gekom teen een van sy taaiste teenstanders, Jan Greyvenstein, wat tans een punt bo hom op die punteleer lê.

Op dag een het Le Roux die Fatback Farmers-afdeling gewen, ‘n afdeling wat behels dat hy met 130kg in elke hand 10m ver moes stap, die gewigte neersit, dit weer optel en weer vir 10m moes stap. Le Roux het agt repetisies (reps) hiervan gedoen. Hierna het Le Roux ook die 200kg Sled Pull gewen en in die Overhead Medley het drie reps in die 120kg Log Press gedoen en ook drie reps met die 110 kg Axle Press – gelyk met Greyvenstein. Algeheel het Le Roux eerste uit vier deelnemers op dag een geëindig.

Op Dag 2 moes Le Roux alles insit om sy voorsprong op Greyvenstein te behou. Die dag het begin met ‘n Max Deadlift, met Le Roux wat ‘n maksimum gewig van 260kg kon lig. Hy kon egter nie verder gaan nie, nadat die band wat sy hand aan die gewig vasgehou het, gebreek het. Dit het aan hom ‘n tweede plek besorg. Die volgende item was die 370kg Yoke Walk waar Le Roux ook tweede geëindig het.

Met die aanbreek van die laaste item, die Atlas Stone, was Le Roux en Greyvenstein gelyk op die punteleer. In die item moes 'n 125kg Atlas-steen oor ‘n dwarslat van 1,6 m gegooi word. Le Roux kon twee stene oor die dwarslat gooi, maar met sy derde poging het hy die steen aan die dwarslat vasgedruk en gesukkel om die steen oor te gooi. Hy het te veel tyd gemors en toe hy sy oë uitvee, was sy 60 sekondes verby. Al wat Greyvenstein toe moes doen, was om drie stene oor die dwarslat te gooi. Dit het hy wel reggekry en het as algehele wenner weggestap, met Le Roux in die tweede plek.

“Ek sal in November in Rustenburg aan die Africa's Strongest Man deelneem. Tans berei ek voor en oefen tussen twee en drie ure per dag,” het Le Roux Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê. Hy sê hy sien baie uit daarna. “Ek het vir Jan wat gewen het gesê ek kry hom by die Africa’s …  Jan is goeie kompetisie en motiveer my net om harder te werk,” het Le Roux gesê.

Le Roux neem uit eie sak aan die kompetisie deel en kry geen borgskappe nie. “Maar ek geniet die sport en spaar maar bietjie,” het Le Roux gesê. Hy is ook baie dankbaar vir die mense wat hom so bystaan en motiveer. “Ek wil net graag vir Marihan, my meisie, bedank vir haar ondersteuning en bystand. Sy is saam by elke kompetisie en praat my heeltyd moed in. Dankie ook aan advokaat Francois van Zyl wat my bystaan en ondersteun tydens my voorbereiding. Hy het 10 Oktober Australië toe gevlieg waar hy aan die World Crossfit-kampioenskappe sal deelneem, ook in ‘n Meesters-afdeling. Ek wens hom sterkte toe,” het Le Roux gesê.

Wat sy eie volgende deelname betref, het Le Roux gevra dat mense vir hom moet duim vashou by die Afrika kampioenskap. “Dankie vir almal wat af en toe boodskappe stuur, soos Rampie Gilfillan en Riaan Volschenk. Ek waardeer julle ondersteuning en ook al die ander wie se name ek nie noem nie. Go heavy or go home,” het Le Roux gesê. Laastens, maar nie die minste nie, het Le Roux ook sy familie bedank vir hulle ondersteuning. “Dankie vir my familie vir hul ondersteuning en my kinders wat altyd belangstel en in my glo. Dankie Dandré en Mia. Daddy is baie lief vir julle,” het Le Roux gesê.

Sport - Date: 13 October 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

Met die aanbreek van die laaste item, die Atlas Stone, was sterkman Leon le Roux en Jan Greyvenstein gelyk op die punteleer. In dié item moes 'n 125kg Atlas-steen oor ‘n dwarslat van 1,6m gegooi word. Le Roux kon twee stene oor die dwarslat gooi, maar met sy derde poging het hy die steen teen die dwarslat vasgedruk en gesukkel om die steen oor te gooi. Hy het te veel tyd gemors en toe hy sy oë uitvee, was sy 60 sekondes verby. Al wat Greyvenstein toe moes doen, was om drie stene oor die dwarslat te gooi. Dit het hy wel reggekry en as algehele wenner weggestap, met Le Roux in die tweede plek. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: