ADVERTISEMENT:

 

Tydens verlede jaar se Brug-na-berg fietsrit het die groep ontbyt geniet by die Viva-winkel op Bandelierkop.

Weer tyd vir Brug-na-Berg

 

Die gewilde Brug-na-Berg fietsrit, waartydens groepe fietsryers in een dag die roete vanaf Beitbrug tot by Kaapstad aandurf, vind vanjaar op Saterdag, 5 Mei, plaas.

Die koördineerder van die rit, oom Jakkie van der Colff, het al einde verlede jaar begin om spanne te motiveer om aan die rit deel te neem. “Die doel van hierdie fietsrit is om fietsry te bevorder as ‘n gesinsport en vir die enkeling. Daarom kan enigeen deelneem. Oud, jonk, fiks, onfiks, bekwame fietsryer, beginner, professioneel of wie ook al. En dit is gratis,” sê hy.

Gelukkig hoef fietsryers darem nie die hele tog vanaf Beitbrug tot in die Kaap aan te durf nie. Elke groepie voltooi net die deel van die roete wat naby aan hulle is en gerieflik is. In die Soutpansberg het ‘n groep verlede jaar by Beitbrug weggespring en tot in Louis Trichardt gery. Terselfdertyd het ‘n groep in Louis Trichardt weggespring wat weer tot in Polokwane gery het. So het groepies fietsryers regdeur die land elk dele van die 2 000km roete voltooi.

Die fietsrit word aangebied as ‘n informele ontspanningsrit en vorm nie deel van enige amptelike beheerliggaam nie en word ook nie geborg deur ‘n spesifieke maatskappy nie. Die groepies fietsryers is egter welkom om die geleentheid te gebruik om bewusmaking te kweek of fondse in te samel vir ‘n organisasie van hul keuse.

“Verlede jaar het ongeveer 186 fietsryers deelgeneem en is gesamentlik ± 18 000 km afgelê. Die oudste persoon wat deelgeneem het was 70 jaar wat 107 km gery het en die jongste was ses jaar oud wat 22 km gery het. Daar was ook ‘n dogtertjie van Wolmaransstad wat ek skat seker so nege jaar was wat ook ‘n ent gery het,” vertel oom Jakkie.

 Vir meer inligting oor vanjaar se rit, kan die groep se Facebook-blad besoek word. Soek vir Brug na Berg of gebruik dié skakel: https://www.facebook.com/Brug-Na-Berg-254183118343224/.

Sport - Date: 18 January 2018

Recent Articles

Search for a story:

 

Drie van die fietsryers wat verlede jaar die tog vanaf Beitbrug tot in Louis Trichardt aangedurf het afgeneem by die Verwoerd tonnels. Van links af is Malcolm Tucker, Jaco Oberholzer en Mark Archer.

 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: