ADVERTISEMENT:

 

Erwee Robbertze, 'n plaaslike o.17-rugbyspeler, is gekies om deel te wees van die Bo-Karoo Gazelle-span wat binnekort aan die Dallas Sewesrugbytoernooi in Amerika gaan deelneem.

Erwee dalk streek se volgende Springbok?

 

Een van Louis Trichardt se jong rugbytalente is raakgesien en uitgenooi om deel te neem aan een van die mees gesogte oorsese rugbytoernooie.

Die 17-jarige Erwee Robbertze is een van net drie o.17-rugbyspelers wat gekies is vir die Bo-Karoo Kampus se Gazelle span om aan die Dallas o.19-sewestoer in Texas, Amerika, deel te neem.  Hierdie toer vind plaas onder die vaandel van die Bo-Karoo Kampus se Sportfederasie op Oriania met die doel om Suid-Afrikaanse spanne die kans te gee om op internasionale vlak deel te neem.

Erwee vorm deel van die gekombineerde o.17- en o.18-uitnodigingspanne wat aan die Dallas sewestoernooi se Silver Cup-afdeling sal deelneem vanaf 25 Junie tot 3 Julie. Die spanne sal vergesel word van hulle afrigter, die voormalige Puma-speler en afrigter van die 0.21-Shimlas- en Irawas rugbyspanne, Hendrik Ras.

“Hierdie toernooi is meer as net rugby, dit is ook ‘n loopbaangeleentheid. Verskeie Suid-Afrikaanse spanne het uitstekend gevaar en heelwat seuns is die afgelope twee jaar beurse deur Amerikaanse universiteite aangebied,” het dr. Stephan Hoffman,  kampusrektor van die Bo-Karoo Kampus gesê.

Daar word fel kompetisie verwag in hierdie toernooi, waaraan verskeie sterk Amerikaanse spanne ook gaan deelneem.

Erwee het egter al heelwat ondervinding agter die blad en het al uitgedraf op die veld as ‘n flank, senter, vleuel en skrumskakel. Sy rugbyloopbaan het begin in 2008 by die CVO Skool Zoutpansberg, waar hy ook nog tans op skool is. Sedertdien het Erwee nog elke jaar deelgeneem aan die CVO Noord-Transvaalse Winterspele. Hy is ook in 2013 en 2014 gekies as lid van die BCVO se nasionale rugbyspan en ‘n besliste hoogtepunt was toe hy in 2014 as die Beste o.13-voorspeler van die toernooi aangewys is by die Bokkieweek.

Tydens verlede jaar se Bokkieweek het Erwee ook uitgedraf vir die sewesrugbyspan en gehelp om die span deur te druk na die semi-finale. Hy het ook sommer in dieselfde jaar vir Hoërskool Louis Trichardt uitgedraf in drie verskillende sewestoernooi.

“Sy veelsydigheid, spoed en vaardighede maak hom ‘n baie geskikte speler vir sewesrugby,” het Erwee se CVO-afrigter, mnr. André van Heerden, gesê.

Ongelukkig kan die Bo-Karoo Sportfederasie spelers se reis- en verblyfkostes net gedeeltelik borg. Erwee sal die balans uit sy eie sak moet bybring. Hy het hom derhalwe na die publiek gewend om hom te help sy droom ‘n waarheid te maak.

Enige iemand wat wil help kan met sy ma, Carike, skakel by tel. 078 598 7761 of die CVO Skool Zoutpansberg by tel. 082 878 7148.

Intussen het Erwee sy opregte dank uitgespreek teenoor die volgende mense wat hom gehelp het om tot hierdie punt in sy rugbyloopbaan te kom: Stefan Jacobs, pa Joubert Robbertze, afrigter André van Heerden, mnr. Armand Stander van Hoërskool Louis Trichardt wat hom verlede jaar die geleentheid gebied het om deel te wees van hulle sewesspan, Jan Steinman, Gideon van Zyl, Willie Nel en Hendrik Ras wat hom die geleentheid gebied het om deel te wees van die Bo-Karoo Gazelle en natuurlike alle eer aan sy Hemelse Vader.

Sport - Date: 21 April 2018

Recent Articles

Search for a story:

 

Erwee Robbertze, 'n plaaslike o.17-rugbyspeler, is gekies om deel te wees van die Bo-Karoo Gazelle-span wat binnekort aan die Dallas Sewesrugbytoernooi in Amerika gaan deelneem.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: