

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 06 October 2006
Die woestyn uithourit in Namibië was ‘n groot ervaring vir die ma- en dogterspan, Leonie en Lanèl van Nieuwenhuizen van Makhado (Louis Trichardt).
Hulle het ook baie goed presteer tydens hierdie uithourit buite Walvisbaai wat die laaste been vorm van die Afrika Kampioenskap vir uithouritruiters.
Leonie en Lanèl het deelgeneem vir die Platorand Uithouritklub. Leonie met haar perd Shoraya Jafar het ‘n uitstekende vierde plek in die senior-afdeling oor 120km behaal. In die 120km vir junior en jong ruiters het Lanèl (14) met haar perd Studvet Sam ‘n 20ste plek behaal, nadat sy op die derde been van die wedloop ‘n 6km draai gery het.
Uiterste temperature en ‘n roete wat oor die meedoënlose woestyn, langs die see en oor harde soutpaaie strek, maak hierdie uithourit ‘n moeilike uitdaging vir ruiter en perd. Die berugte Duin 7 beproef ruiter en perd tot die uiterste. Hierdie reuse duin duik op in die warmste deel van die dag gedurende die laaste deel van die uithourit, nadat die ruiter reeds meer as 100 kilometer agter die blad het.
“Jy sak weg in die sand en moet afklim en saam met jou perd deur die sand ploeg. ‘n Perd is ‘n ongelooflike dier. Hy is so naby aan jou en weet hierdie is ‘n kompetisie en hy moedig jou aan,” sê Leonie.
Hulle het hul perde voorberei vir daardie omstandighede deur agter die Soutpansberg in sand te gaan oefen. Lanèl se perd is baie sterk en sy het nie afgeklim by Duin 7 nie.
Die moordende uithourit is deur die televisiespan van Kwêla verfilm en veral die gedeeltes oor Duin 7 waar perd en ruiter mekaar ondersteun, het die span beïndruk.
“Ek gaan dit verseker weer volgende jaar aanpak,” sê Lanèl.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
